Dis volkswysheid dat daar liefs nie oor politiek of godsdiens rondom die braaivleisvuur gesels word nie. Waarom nie? Want verskillende menings mag die humeure saam met die braaivleisvuur laat opvlam en dan is dit net twee biere verder voordat familie onterf en vriendskappe geruïneer word.

Neem godsdiens as voorbeeld. Waarom vind mense dit dikwels so moeilik om gesonde gesprek oor hulle eie of ander se godsdienstige oortuigings te hê? Waarom verloop ʼn tipiese gesprek dikwels so:

Ek: Ja, dit is.

Jy: Nee, dit is nie.

Ek: Is.

Jy: Issie!

Ek: Is-is-is!

Jy: Dis beláglik.

Ek: Jy’s be-lag-lik!

ʼn Mens wonder soms of dialoog rondom godsdienstige sake regtig móóntlik is. Maar miskien moet ons eers vra: Is dialoog nódig?

Wel, nie almal dink dis nodig nie. Sommige gelowiges en ateïste is hieroor eens, natuurlik om verskillende redes:

Dialoog met ʼn ateïs? Watter gemeenskap kan daar tog wees tussen lig en duisternis?

Dialoog met ʼn gelowige? Sekerlik, maar kan ons dan sommer ook gesels oor hoe die huis lyk wat die Tandemuis besig is om uit emalje te bou?

ʼn Mens kry die gevoel dat dialoog tóg nodig is. Wanpersepsies en onkunde was nog nooit deugde nie. As die kans om meer ingelig te raak, die enigste ding is waarvoor dialoog goed is, dan is dit dalk die moeite werd om te probeer. Kennis bring dikwels beter begrip, en beter begrip kan dalk die karikature ontmasker wat ons so dikwels van sekere mense maak.

Nie almal wat ateïste is steek horings onder hoedens weg nie. Nie almal wat Christene is se breine staan in bottels formalien onder hul beddens nie. Om maar net twee stereotipes uit te sonder.

Baie mense, gelowiges en nie-gelowiges, kies egter steeds om hulle eenvoudig af te sny van diegene wat anders dink en glo as hulle. Daar is baie redes hiervoor. Sommige mense het al te seer gekry, te veel veroordeling beleef, om ooit weer met godsdiens gemaklik te voel. Ander is al te veel kere uitgelag en bespot vir dit wat vir hulle kosbaar en heilig is, om hulleself ooit weer bloot te stel. Vir al hierdie mense is dialoog inderdaad onnodig en onwelkom.

Dis natuurlik nog ʼn rede waarom dialoog, konstruktiewe dialoog, juis so belangrik is.

Maar hoe lyk sulke konstruktiewe dialoog en wat is die motiewe wat daardeur onderlê word (of behóórt te word)? Hoe lyk dialoog wat nie maar net inligting uitskei soos ʼn spinnekop haar sydrade uitskei om ʼn web te spin vir ʼn niksvermoedende prooi nie? Hoe lyk dialoog wat vry is van die benoude reuk van arrogansie en hoon?

Vervolgens word drie dinge genoem wat ons almal meer in ag kan neem en wat konstruktiewe dialoog bevorder:

1. Die doel van dialoog

In teenstelling met wat iemand mag dink, is die doel van dialoog nie om ander van opinie te laat verander nie. Dis selde dat ons in so ʼn poging nie meerderwaardig of beterweterig gaan oorkom nie. Dis meestal slegs wanneer mense uit hulle eie kies om hulleself in te lig oor ʼn bepaalde saak, dat hulle tot nuwe of ander insigte sal kom. Dialoogvoering is nie hoofsaaklik so ʼn medium nie. Ten beste kan ons hoop om iemand dalk indirek te beïnvloed wanneer hulle beter verstaan waar ons vandaan kom.

Wat is die doel van dialoog dan? Dialoog gaan oor die proses om tot groter begrip te kom van jou gespreksgenoot se siening, om daaroor meer ingelig te raak. Die eerste stap in hierdie proses is om áltyd na jou gespreksgenoot én sy sienings te verwys op ʼn wyse waarop jy graag wil hê dat hulle na joune sal verwys. ʼn Mens noem dit respek. Sulke respek is nie ʼn aanduiding dat jy iemand se sienings goedkeur nie, maar dis ʼn aanduiding dat jy iemand se reg om ʼn siening te hê, erken, al dink jy ook hulle is verkeerd in daardie siening. Sonder sulke respek is dialoog van die begin af gedoem.

Sulke respek beteken nie dat daar nie ʼn plek is vir deurdagte kritiek of die uitspreek van verskille in die proses van gesonde dialoog nie. Die punt is egter dat dit slegs betekenisvol en konstruktief sal wees as dit plaasvind in die konteks van ʼn poging tot groter begrip. Slegs in die konteks om ander te verstaan, sal mense ervaar dat wanneer ons kritiek uitspreek, ons altyd die moontlikheid insluit dat ons iemand se siening dalk verkeerd verstaan en daarom oop is om gekorrigeer te word. Dis ook wanneer ons dan kritiek ontvang, ons nie instinktief hoef te voel om te verdedig nie, maar het ons die ruimte om eers vir ʼn oomblik self-krities te raak en te probeer verstaan waarom iemand sê wat hulle sê. Ons is tog baie meer geneë om oor ons eie sienings te reflekteer (en dit selfs te hersien, indien nodig) as ons ervaar dat ander werklik ʼn poging aanwend om ons sienings te verstaan.

2. Die persoonlike aard van geloofsoortuigings

Mense se diepste oortuigings gaan oor hoe hulle sin maak van hul wêreld. Sulke oortuigings is dikwels diep gewortel en oor baie jare gekweek, selfs al was dit nie altyd deur ʼn bewustelike of rasionele proses nie. Niemand het een goeie oggend wakker geword met ʼn volledige stel rasionele oortuigings waaroor hulle daar en dan ʼn tesis kon skryf nie. Niemand verander ook hulle diepste oortuigings sommer oornag nie. Dit is waar vir beide die ateïs en die Godgelowige. Om dus te dink dat ons iemand sommer gou-gou met ʼn paar goed gekose argumente en skerp kritiek die lig gaan laat sien, is naïef en arrogant.

Geloofsoortuigings (ja, selfs die oortuigings van die persoon wat in geen god glo nie) is iets wat veral ook emosioneel ingebed lê in die psige van elke mens. Vir ander om ongenooid of ondeurdag te kom krap aan wat vir ons waardevol is, is die hoogste vorm van minagting. Dit wek onwillekeurige emosies – diep, irrasionele kern-emosies. Ons wil ten alle koste beskerm wat vir ons kosbaar is, dáárom rys ons hare, wys ons tande en kom ons naels uit.

Dit is juis omdat hierdie tipe oortuigings so persoonlik is dat ons nooit mense of hulle oortuigings mag bespotlik maak nie. Nooit nie. Soos in nooit.

Dis slegs die persoon wat homself en die psige van sy medemens glad nie verstaan nie, wat ander en hul sienings bespotlik maak. Dis slegs die persoon wat homself nie in ander se skoene kan of wil plaas nie, wat ander subtiel of minder subtiel beledig en op hulle neerpraat. Dis slegs iemand wat sadistiese plesier daaruit put om ander te spot en te beledig, wat terselfdertyd dink dat sulke mense dit boonop verdien. (Sien hier en hier vir voorbeelde hiervan.)

3. Almal verdien geduld en simpatie, ten minste aanvanklik

ʼn Mens dra by tot konstruktiewe gesprek deur ander met geduld en simpatie te hanteer. Niemand het alle wysheid in pag nie. Almal is maar “dom” relatief tot die breër kennis en meer kundigheid van ander. Ons is ook almal in die proses om te leer, en daarom kan ons ons gespreksgenote die voordeel van die twyfel gee deur te glo dat hulle, net soos ons, nie summier onwillig is om te leer nie (natuurlik tot en met hulle die teendeel wys). Mense se ego’s is egter maar altyd op die spel en daarom kan ons ander se onkunde en naïewe voortvarendheid soms maar so effens verdra.

Soms help dit om te besef dat iemand slegs kan doen, wat die gereedskap wat hy het, hom toelaat om te doen. Wanneer daar dialoog gevoer word, help dit niemand om maar net te hoor hoe verkeerd en oningelig hulle is nie. Soms kan ons inderdaad inligting oordra of korreksies voorstel sonder om prekerig of arrogant oor te kom. Dit help ook om te onthou dat min mense genoeg ervaring en die nodige artikulasie het om hul idees met sofistikasie en presiesheid te deel. Partykeer moet ons iemand regtig eers die kans gee om die regte woorde te vind en hulleself beter uit te druk, eerder as om te vinnig te probeer om hul woorde uitmekaar te trek. Om soos ʼn kat op sy prooi te spring voel dalk dat ons iemand op sy plek gesit het, maar het ons werklik gewys dat ons probeer verstaan wat iemand anders sê?

Nie almal is sensitief vir nuanses en kompleksiteit nie, en soms is mense inderdaad dogmaties en te seker van hulself. Ons het almal bagasie. Onvolwassenheid, bitterheid, vrees vir die onbekende, vrees vir verwerping, vrees vir twyfel en vir wat dit impliseer, selfs vrees dat ʼn mens se eie onkunde blootgestel gaan word – dit alles kan ʼn rol speel in waarom mense dikwels op bepaalde maniere kommunikeer. As ons hiervoor sensitief is, dan het ons dalk rede om meer gereeld met minder drif te reageer, met ʼn vriendeliker toon te antwoord. Dalk moet ons meer dikwels wys dat ons nie maar net met gesperde kake, kwylerige tande en bloeddorstige oë, grommend lê en wag dat iemand die geringste fout maak nie.

So, indien bogenoemde drie elemente van konstruktiewe dialoog vir jou totale bog is, probeer gerus die volgende aweregse strategie (en ons hoor baie graag van jou oor hoe dit vir jou gewerk het):

1. Moenie te veel van jou tyd met deurdagte argumente mors nie. Val die ignoramusse sommer direk aan en maak mildelik gebruik van beledigings, insinuasies en verdagmaking. Hoe meer subtiel jy egter te werk kan gaan, hoe beter.

2. Maak gerus aannames oor wat iemand anders glo sowel as die sielkundige redes vir waarom hulle dit dalk sou glo, want wie het deesdae nog tyd om iemand se standpunte behoorlik te probeer verstaan. Kyk ook sommer hoe karikatuuragtig jy iemand se sienings kan voorstel; hulle gooi dan heel gou hulle speelgoed uit die kot. Te kostelik.

3. Dialoog, schmialoog! Monoloog is die ding! Praat tot ander, of nog beter – af na hulle – en nie met hulle nie. En moet jou tog nie so bekommer oor die indruk wat jy wek dat jy arrogant en meerderwaardig is nie – om ander te bepreek en te bepraat wat nie daartoe ingestem het nie, kan hulle net goeddoen!

4. Besluit vóóraf dat niks wat iemand anders sê ooit sinvol, korrek of leersaam is nie. Nie eers naastenby nie. Want dit is nie. Kan nie wees nie. Mag nie. Sal nie.

Ten slotte is dit goed om ʼn paar verskillende gespreksplatvorms te noem waar die elemente van gesonde gesprekvoering tot ʼn meerdere of mindere mate van toepassing is:

Internetgespreksforums

Lees ʼn mens op byna enige webwerf of Facebook se kommentaargedeeltes, of selfs die briewekolom van ‘n koerant, dan sien ʼn mens ongelukkig selde dat mense bewus is van die elemente van gesonde gesprekvoering. Die kommentaar en interaksie op hierdie tipe forums is dikwels soortgelyk aan bestuurdersgedrag. Die redelike anonimiteit en onpersoonlike nabyheid van motoriste, maak dat mense dikwels voel dat hulle kan wegkom om ander motoriste allerlei dinge toe te snou (en te wys), maar wat hulle nie sou dink om van aangesig tot aangesig te doen nie. Gespreksplatvorms op die internet is dikwels ʼn teelaarde vir lui en selfgesentreerde gespreksvaardighede waarby deurdagte persone geen aanklank vind nie.

In sy artikel, What is Trolling? skryf Jeff Atwood dat daar van sekere mense op die internet die volgende gevra moet word:

Why are you here? … Did you join this discussion to learn? To listen? To understand other perspectives? Or are you here to berate us and recite your talking points over and over? Are you more interested in fighting over who is right than actually communicating? … If you really care about a topic, you should want to learn as much as you can about it, to understand its boundaries, and the endless perspectives and details that make up any interesting topic. Heck, I don’t even want anyone to change your mind. But you do have to demonstrate to us that you are at least somewhat willing to entertain other people’s perspectives, and potentially evolve your position on the topic to a more nuanced, complex one over time. In other words, are you here in good faith?

Atwood maak dan hierdie opmerking:

People whose actions demonstrate that they are participating in bad faith – whether they are on the “right” side of the debate or not – need to be shown the door.

Formele debatte

Die formele debat is ʼn populêre gespreksforum waarin mense hul sienings uiteen kan sit en waar ʼn gehoor kan sien hoe dit vergelyk met dié van ʼn teenstander. Daar bestaan egter ʼn paar wanpersepsies oor die aard van ʼn formele debat. Die formele debat is nie ʼn medium vir dialoogvoering nie. Die doel is hoofsaaklik om inligting aan ʼn gehoor oor te dra (dus nie om die opposisie te probeer oortuig nie), en om dan daardie inligting teen kritiek te verdedig. Sodoende kry die gehoor die kans om die argumente te evalueer en tot ʼn konklusie te kom oor die geldigheid van iemand se standpunt. Die debatteerder wat hierdie doel verstaan, sal sy argumente ook op so ʼn manier aanbied dat dit die gehoor stimuleer om verder daaroor te gaan nadink. Die debatteerder wat hierdie doel nie verstaan nie, is die debatteerder wat sy opponent en sy sienings probeer verdagmaak, en sodoende goedkoop reaksie by ʼn gehoor probeer uitlok. Selfs by hierdie forum is daar dikwels ook ʼn gebrek aan gespreksvaardighede.

Debatte kan gestruktureer word om wel ʼn sterker fokus op dialoog te hê, maar hier is dit slegs ervare en self-kritiese gespreksgenote wat suksesvolle dialoog kan voer. Min mense kry dit egter reg. (Hier is voorbeelde van gesprekvoerders wat dit regkry: Lennox and McKaiser asookMcGrath and Al-Khalili. En hier is waar dialoog misluk het – en dit neem slegs een persoon om dit te laat misluk: Krauss and Craig.)

Om die braaivleisvuur…

Dit is tydens die informele gesprekke wat mense het, waar die beginsels vir konstruktiewe dialoog dalk die meeste waarde kan hê. Dalk kan ons meer gereeld iets soos die volgende nastreef:

Ek: Ek verstaan nie heeltemal nie, wat presies bedoel jy met […]?

Jy: Ek bedoel dat […]

Ek: So, as ek jou reg verstaan, dan […]

Jy: Ja, min of meer, maar ek sou jou tweede punt effens ander stel in dat […]

Ek: Goed, ek verstaan nou beter, maar wat van die feit dat […]

Jy: Goeie punt, ek sal beslis daaroor gaan nadink. En jy, hoe dink jy daaroor?

Ek: Wel, ek is nie ʼn ekspert nie, maar hoe ek dit nog altyd verstaan het is dat […]

The purpose of dialogue is to increase understanding. And it’s only in the context of trying to understand, that disagreement finds its proper place. – Unknown

The rational man judges another man’s rationality by the arguments he makes, regardless of whether he agrees with the conclusions so reached. The irrational man judges another man’s rationality by the conclusions he expresses, regardless of the arguments he may make for them. – Ilíon