Die bekende filosoof Andy Samberg van The Lonely Island groep het onlangs een van hul tipiese spot musiekvideo’s uitgebring getiteld, ‘Threw it on the Ground’. Hierdie ouens se missie is hoofsaaklik om jou te skok en laat lag deur die spot te dryf met ‘n bepaalde musiek genre en meeste van die tyd is dit van so ‘n aard dat jy dit nie noodwendig saam jou ma kan kyk nie. Ek dink egter Andy spreek ‘n sosiale verskynsel aan in hierdie spesifieke video. Nou wees gewaarsku om diep filosofiese kommentaar in hierdie ouens se video’s te soek is nie die mees akademiese oefening nie, maar laat ek verduidelik.

Samberg se karakter is hierdie oordrewe hipster dude wat niks van enige iemand wil vat nie, want alles is net deel van die ‘system’. Dit maak nie saak wat wie vir hom gee nie, hy meen dat hulle verskuilde agendas het, en hy ag dit sy tak dit is sy taak as die perfekte rebel om daardie iets op die grond te gooi. Vandaar die titel. Gaan kyk gerus op youtube saam ‘n paar miljoen ander na een van hul min video’s wat nie heeltemal ‘verkeerd’ is nie.

Wat Lonely Island hier doen is om die spot met ‘n algemene verskynsel van die sogenaamde yskoue te dryf.. Hollywood is mal daaroor om hierdie karakters uit te beeld. Solank die persoon teen die sisteem is, is hy cool. Enige ‘institution’ of ‘establishment’ is boos en probeer jou as individue ondermyn deur jou soos die groep te laat dink en loop. Jy moet jou eie persoon wees. Dit maak nie saak wat ander mense vir of van jou sê nie, jy moet doen wat jy wil wanneer jy wil. Dit kom daarop neer dat jy die hoofkarakter in jou eie storie is en die bose magte van enige instelling beveg – of dit die regering, skool, kerk of soos die hippies dit noem ‘corporations’ is.

Dit is wat die sosiale hekwagters ‘in’ noem.

Een van my gunsteling programme is South Park vir die eenvoudige rede dat hulle briljante sosiale kommentaar lewer. Hulle is nou al vir meer as ‘n dekade besig en dit is baie interessant om te sien hoe die voorwerp van hul bespotting verander het oor die jare. In die eerste paar reekse het die arme kerk swaar gekry en jy’t gesukkel om ‘n episode te kyk waar Jesus nie een of ander lawwe rol speel nie.. Fundamentalisitese Christenskap was hul hoofteiken en is swaar getref. Ons spring nou ‘n paar jaar in die toekoms in en ewe skielik is Christenskap nie meer die slaansak wat dit was nie. Richard Dawkins en die sogenaamde Nuwe Ateïsme kry ‘n paar ‘n skerp houe. Die liberale ideologie van perpetuele verdraagsaamheid en haar oorbeklemtoning van die individue stap ook nie onaangeraak weg nie. Maak geen fout nie, die kerk loop steeds deur en dalk verdien sy dit ook ‘n bietjie, maar die aanvalle is oor ‘n paar teikens verdeel.

Wat beteken dit?

South Park is  spot met nigiets of iemand wat te veel aandag kry.. Die kerk was die voor die handliggende keuse gewees vir jare, maar is eintlik besig om sosiaal aan die agterspeen te suig. So om hulle nou te bly spot is bietjie vervelig, want almal doen dit. Trouens dit is nou al vir lank die in-ding om te doen. Simpsons doen dit, Seth McFarland doen dit met Family Guy en American Dad. Saturday Night Live doen dit. In die woorde van Frank the Tank in Old School, ‘everybody’s doing it!’

Hier is egter die probleem. Waar die kerk histories op almal gepik het en daarom ‘n paar houe verdien het vanuit die kunste, is hulle (of ons) nou die buiteperd. South Park het dit waargeneem en die nuwe ‘kerk’ begin aanvat. In ‘n wyer kulturele fenomeen het dit so cool geword om die sisteem (waaronder die kerk val) af te breek, dat dit nou die instelling geword het. Om aan die über-linkse liberale kant te staan en te skreeu op alles wat ‘establishment’ en norme is, het nou die norm geword. Dit is problematies, want jy is juis ‘n rebel deur as individu op te staan teen die massas. Die wiel het egter nou so gedraai dat die massas bestaan uit ‘n klomp rebelle wat onder die illusie van individualisme verkeer. Dink aan die skok van die verligte massas wat in ongeloof (pun intended) geluister het terwyl Matthew McConaughey God bedank het nadat hy aangewys is as beste akteur by die 2014 Oscars. Behalwe vir een of twee mense wat hande geklap het (moes familie gewees het) het die res probeer uitvind of hierdie God-ou die vervaardiger of regisseer was. ‘n Twitter’er was vinnig om die situasie op te som:

Atheist Tweeter @Atheist_Tweeter

“I loved the lack of clapping as Matthew McConaughey thanked god. Things are getting better.”

Die nuwe sosiale elite wat die Oscars vol sit, glo dat jy jou eie individuele keuses los van die sisteem moet uitoefen. Behalwe (en hierdie is belangrik) as jou individuele keuses los van die sisteem anders is as hulle individuele keuses los van die sisteem nie.

Met die onlangse Puk saga het ek opnuut bewus geword van hierdie verset teen institusionele  dinge. Wie dink ‘n senior in ‘n koshuis is hy deur eerstejaars se individualiteit af te breek deur hulle as ‘n groep te hanteer. Saam liedjies te sing, dieselfde koshuis klere aan te trek en ‘n klomp ander argaïese tradisies te beoefen. Uniforms moet gaan en jy moet almal toelaat om uitdrukking te gee aan hulle individualiteit, ongeag die omstandighede. Jy kan nie vir ‘n eerstejaar dwing om koshuisdrag aan te trek nie. Dis soos om vir advokate te vra om wit en swart hof toe aan te trek. Of daardie belaglike togas by akademiese geleenthede. Wat is volgende? Uniform vir mense wat by Spur werk en dan verjaarsdag liedjies sing?

My waarneming is egter dat almal nou die individuele nie-konformering ding doen. Hierdie subgroep se identiteit het in wat dit beveg het gelê, maar nou is dit nie meer ‘n subgroep nie, maar die groep, en ek voorspel ‘n identiteitskrisis. Emo is net Emo mits dit in die minderheid bly. Die Rebel is die uitsondering nie die reël nie. In n fliek waar die skool vol rebelle is, is die behoudende oukie die hoofkarakter, nie waar nie? Hoe anders gaan hy uitstaan? So wat word van hierdie Afrikaanse rebel wat wyn drink op die straatkafee en besin oor hoe betekenisloos die lewe is en hoe almal in hul onderskeie eksistensiële krisisse moet beland en dus die angs van Nihilisme verdra? Wat word van die liberale Afrikaanse gees wie se lewensmissie gekenmerk word deur die woord ‘anti’. Die verligtes wat die sisteem beveg net omdat die sisteem die sisteem is. Dit was sexy toe Jean Paul Sartre dit gedoen het en dit is sexy nou. ‘n Franse straatkafee is bloot geruil vir die Akker op die Bult. Wat word van hulle? Die antwoord is eenvoudig: ‘meer’. Hulle word meer. Hulle word die massas, hulle word die sisteem. Hulle word die ‘hulle’.

Dit is ten minste Die Beeld wat ek kry.

Ek is egter ‘n rebel. Iemand wat teen die sisteem wil ingaan. Stroom-op swem soos hulle sê. Gevolglik is ek vir bepaalde simpel tradisies en spangeoriënteerde aktiwiteite wat soms die groep bo die individue stel. Ek is teen eenvormige individualiteit waar ons almal dieselfde lyk deur ons bes te probeer om nie dieselfde te lyk nie. Ek is saam my akteur vriend Matthew een van daardie weird ouens wat glo God speel ‘n rol in my en ander se lewens.

Alhoewel, miskien wil ek daardie individualistiese ou wees wat skepties is oor God en enige ander instellings, maar die probleem is, dis net nie meer rock en roll nie en in die woorde van Lonely Island se Andy Samberg, I won’t be part of your system!