DIE EVOLUSIE VAN SPIRITUALITEIT – Herman Carstens

Vir meeste mense is die kerk so bietjie soos die blindederm van ons samelewing: ‘n oorblyfsel van ‘n langvergete era; ‘n meestal-skadelose artifak wat tog soms onsteek en dan liefs verwyder moet word. Almal is wel deesdae “spiritueel”, selfs ateïste. Ontnugter deur armoedige na-verligtings rasionalisme en die knaende bewustheid van die werklikheid as iets meer as dit wat die wetenskap vir ons kan wys, is New Age en selfs Gnostiese gemeenskappe besig om hierdie leemte, en hulle gemeentes, spoedig te vul.

Ironies genoeg is een van die redes hiervoor dat die kerk in sy poging om relevant te bly in ‘n sekulêre wêreld met modewoorde soos “alledaags” en “doodgewoon”, juís dít geword het: alledaags. En alledaags word so maklik onnodig. Van die kansel af word daar word gereeld beklemtoon dat daar nie in Hebreeus ‘n woord soos “spiritueel” bestaan nie, omdat alles vir die Jood spiritueel van aard was. Dus, sê die dominee, is daar nie ‘n verskil tussen die sekulêre en die geestelike is nie – tot nadeel van die geestelike. In plaas daarvan dat die Christen se beroep verdiep het tot ‘n geestelike werklikheid, het bybelstudie, lofprysing en gebed vervlak tot ‘n sekulêr-alledaagse, leë soort geestelikheid.

Die eintlike probleem met ‘n sekulêre spiritualiteit lê veel dieper as die ooglopende logiese teenstrydigheid van ‘n geestelike wêreld sonder ‘n geestelike Skepper. Om ‘n spiritualiteit leeggemaak ‘n morele dimensie na te streef is soos om te wil skilder sonder die idee van skoonheid. Dis nou nie te sê dat mense wat mediteer en smag na die onsienlike nie goeie mense kan wees nie – normaalweg is hulle, en Christene hou vol dat byna almal kan die goeie herken (Rom 2:15). Maar “goedheid” is nie noodwendig ‘n integrale deel van hulle geestelike ervaring soos wat “Eenheid met alles” of “liefde” is nie. Onder hierdie spirituele bewegings vind mens ongelukkig gewoonlik ‘n stel saamgeflansde, modieuse deugde sonder enige absolute verpligtinge, en sonder enige verantwoordbaarheid. As jy jouself belowe het dat jy nie vandag daardie sny koek in die yskas gaan eet nie, en jy doen dit tog, wie gaan weet? Voel jy skuldig? Dis maar net ‘n brein(wan)funksie wat so ‘n bietjie terapie of medisyne kan genees. En soos met die sny koek, so ook met die mees gruwelike dade wat mense al gepleeg het. In die afwesigheid van ‘n gesagvolle Ander wat rekenskap eis soos in die monoteïstiese godsdienste, of selfs bloot ‘n eer-en-beskaming kultuur soos in die geval van Indië of Japan, het hierdie denke ‘n generasie Westerlinge gekweek wie die vermoë om te bloos, verloor het. Uitgelewer aan hierdie soort self-gesentreerde spiritualiteit het gister se sondes vandag se deugde geword: wellus het seksualiteit geword; trots het ‘n positiewe selfbeeld geword; afguns, geldgierigheid en eersug het ambisie geword; woede het passie geword en selfsug het selfvervulling geword.

Is daar salf te smeer? Minstens op twee plekke. Eerstens behoort die vraag na waarheid vir enigiemand sentraal te staan – selfs bo morele oorweginge of die soeke na mistieke ervarings. Waarheid is die een gemene deler wat byna alle wysgere – Oosters of Westers – nagejaag het. C.S. Lewis beskryf dit so:

Ons intellektuele eer het deesdae baie laag gesink – ek hoor mense kermend fluister: ‘Maar sal dit my help? Sal dit my gelukkig maak? Dink jy regtig ek sal ‘n beter mens wees as ek ‘n Christen word?’ Wel, as jy regtig wil weet, my antwoord is ‘Ja’. Maar ek hou nie daarvan om op hierdie stadium daardie antwoord te gee nie. Voor jou is ‘n deur, en agter hierdie deur is daar, volgens sommige mense, die geheim van die heelal wat vir jou wag. Óf dis waar, óf dit is nie. As dit nie is nie, dan versteek hierdie deur die grootste bedrogspul, die mees omvangryke swendelary in die geskiedenis. Is dit nie dan die plig van elke mens om uit te vind watse een van die twee dit is, en sy volle energieë toe te wy aan die diening van hierdie geheim, of die ontbloting van die reusagtige monster nie? As mens voor so ‘n groot vraag staan, kan jy regtig steeds totaal versonke in jou eie nietige “morele ontwikkeling” wees?

Alhoewel die kerk (veral in Suid Afrika) “lastige” vrae op skitterende wyse vermy het, is die tradisie nie arm aan waarheid gelaat nie, en is dit al breedvoerig by Dialoog bespreek. Maar méér nog sou ek aanvoer dat Christelike spiritualiteit warmer as bloot kille feite is. Binne die geloof vind ‘n navolger van Jesus die geestelike hulpbronne om die diepste dors van sy wese te les. Antwoorde op vrae soos Wie is ek? Waarom is ek hier? Wat is fout met die wêreld? Hoe kan wat fout is reggemaak word? word sonder gelyk deur Jesus beantwoord. Die smagtinge wat Oosterse mistiek aanspreek vind meer as hulle vervulling binne bybelgetroue Christelike mistiek soos verduidelik deur byvoorbeeld Thomas Dubay in Fire Within en Dallas Willard in The Divine Conspiracy. Christelike meditasie is nie net waar jy met God praat nie. Christelike meditasie is waar God met jou praat.

Ons is wel vandag in ‘n post-Christelike wêreld: die pad van baie westerlinge het weggedraai van “primitiewe” Christenskap af na ‘n nuutgevonde spiritualiteit toe. Hier spook die woorde van Christelike digter en mistikus T.S. Eliot by my. Hy het relatief laat in sy lewe tot bekering gekom, waarna hy The Four Quartets geskryf, en ‘n Nobelprys ontvang het. Hy sluit dit so af:

…We shall not cease from exploration

And the end of all our exploring

Will be to arrive where we started

And know the place for the first time.

Through the unknown, remembered gate

When the last of earth left to discover

Is that which was the beginning;

The source of the longest river

The voice of the hidden waterfall

And the children in the apple-tree

Not known, because not looked for

But heard, half-heard in the stillness

Between two waves of the sea.

In Jesus herontdek Christene die hoop, die voorbeeld en die perfekte Leermeester in die weg na verligting. In wat Christene “heiligmaking” noem, word die Christen se karakter stelselmatig gevorm na dié van Jesus deur gebed, meditasie, strewe en meer as ‘n klein bietjie hulp van Bo. Die Oosterse mistici te streef in wierooktempels om die Atman (self) een te maak met die Brahman (die universele goddelike) deur hul gedagtes leeg te maak. Die Christen daarenteen, word met God se hulp al méér homself, en al meer soos Jesus, soos die Heilige Gees hom vul: vars en aards soos die reuk van ‘n geploegde land na die eerste lentereën.

Herman blog by standard-deviations.com