THE MATRIX, INCEPTION, EN DIE SIN VAN DIE LEWE.

 

The Matrix het die geneigdheid om mense se lewensuitkyk bietjie te ruk, al het jy dit al vantevore gesien. Wat is die werklikheid, en wat is maar net ‘n illusie of “konstruk” wat my onderbewussyn gebou het? Kan ek my eie sintuie vertrou om vir my te laat weet wat regtig aangaan? En die groter vraag wat die karakter Cypher aan ons vra: maak dit regtig saak? As jy kon kies tussen jou heel gemaklike lewe hier in die Matrix en ‘n vlugtelingsbestaan in ‘n beknopte, donker tuig, hoekom op dees digitale aarde sal jou gemak wil prysgee vir daardie abstrakte idee wat ons “waarheid” noem, as dit op die ou einde geen verskil aan jou heil gaan maak nie?

Hier kan ons ‘n interessante denk-eksperiment doen. Gestel daar sal eendag tegnologie bestaan wat vir ons op skadelose wyse maksimale genot kan verskaf met die blote die druk van ‘n knoppie. Ons sou heeldag net op een plek kon sit en hierdie knoppie druk, doodgelukkig en vergenoegd. Gestel nou ons tegnologie is so ver gevorderd dat ons die res van die wêreld aan masjiene kan toevertrou terwyl ons almal sit en van oggend tot aand hierdie knoppies druk. Volgens John Stuart Mill, vader van utalitarisme, sal hierdie die paradys wees – die grootste geluk vir die grootste aantal mense. Rye en rye mense, tot op die horison gestrek, wat almal heeltemal gelukkig is soos hulle daar sit en hierdie kielie-knoppies druk.

En tog is daar iets siek aan hierdie prentjie. Voel dit nie asof hierdie mense die punt van die lewe sou mis nie? As hulle enigiets anders sou doen sou dit aan hulle minder genot verskaf, maar steeds voel ons op ‘n manier dat dit oukei sal wees. Hoekom? Want ons besef onbewustelik dat daar meer in die lewe steek as om jouself te geniet. Ons eet nie heeldag net lekkergoed nie, ons hunker ook na regte voeding. Ons kan onsself voorstel dat hierdie knoppie nie net emosionele of fisiese bevrediging verskaf nie, maar selfs ook intellektuele bevrediging. Steeds, om jou hele lewe op ‘n stoel deur te bring en ‘n knoppie te druk, sou wees om jou telos te mis – jou bestaansdoel.

Binne die Christelike raamwerk is gemeenskap, vriendskap en liefde teenoor ander mense nie ‘n middel tot ‘n doel (genot, bevrediging, ‘n skoon gewete) nie, maar ‘n doel opsigself. ‘n Telos. God in die drie-eenheid ervaar van die ewigheid af gemeenskap in die drie persone wat mekaar liefhet en verheerlik, en so is die mens ook geskep om in gemeenskap met andere en met God te lewe, lui dié teologie. Mens sou dus kon sê dat die kielie-knoppiewêreld gebrekkig is omdat die mense daardie gemeenskap mis. Hier is die regiseur Christopher Nolan ons een voor met sy fliek Inception. In ‘n onstellende toneel wys hy ‘n saal vol mense op beddens, gekoppel aan droomdrippe, heeldag bewusteloos maar besig om saam in mekaar se drome hulle lewens uit te leef.

En ons gril.

Hoekom? Het hierdie mense nie dan alles wat die “goeie lewe” sou behels nie? In hulle drome is hulle vry en gelukkig, met alles wat hulle harte kan begeer ten opsigte van gesondheid, vervulling, welvaart, opwinding… Ja selfs ware liefde met regte persone. Is dit dalk die hemel? Want eendag gaan ons die geleentheid hê om so ‘n lewe te kies – oor 50 jaar of ‘n 100 jaar – dis net ‘n kwessie van tyd. Soos wat vandag se super-rykes die ruimte invaar, gaan more s’n droom. En oormore gaan almal kan droom. Ons beter vandag hieroor besin, want nes kernwapens steeds die mensdom se morele ontwikkeling vooruit is (We have guided missiles and unguided men het Martin Luther King Jnr gesê), verg hierdie moontlikheid uiterse verantwoordelikheid. Ek vra weer: hoekom sou jy nie uitgezonk, maar doodgelukkig, jou lewe op ‘n bed wil deurbring nie?

Want dit is selfsugtig: mens het jou medemens lief met jou hande, jou tyd en jou trane. Die enigste soort liefde wat regtig nie in ‘n droomwêreld beoefen kan word nie, is die soort wat ander bo jouself stel. Self-opofferende, dienende liefde wat van ‘n kruis op ‘n heuwel in Israel 20 eeue gelede steeds resoneer, helder genoeg om selfs more se vrae te beantwoord.

Herman blog by standard-deviations.com