FACING THE GIANTS VS. FACING THE CULTURE – Johan Erasmus

Nancey Pearsey vertel in haar boek Saving Leonardo hoe duisende Japanese hulself tot die Christelike geloof bekeer. Nie omdat daar meer sendelinge in die land instroom nie, maar a.g.v. die klasieke musiek van Johan Sebastian Bach. Robert Bergt reken dat Bach se musiek Japanese gehore in kontak met die Woord van God gebring het. Bach word met reg deur sommiges beskou as die 5de Evangelie. Duisende Japanese maak die pelgrimstog jaarliks Leipzig in Duitsland toe om die geboorte plek van Bach te gaan besoek. Dit is hier waar hulle na die Lutheraanse liturgie kyk wat Bach geinspireer het en uiteindelik met die Evangelie gekonfronteer word.

Waar is die ‘Bachs’ van vandag? Wat deur kreatiewe en subtiele kuns mense soos Matt. 10:16 ons beveel in nooi om met die Christelike geloof gekonfronteer te word? Christus het ons geroep om sout en lig in hierdie wêreld te wees. Dit veronderstel dat Christene donkerte moet uitsoek en dit met God se Woord belig en waar die kultuur besig is om te vrot dit met sout te preserveer. Tog sien ons ‘n tendens in die Suid Afrikaanse kerk waar ons in isolasie voortgaan en geen kulturele impak maak nie. Die Skrif is vol verskillende letterkundige genres, profesieë, gelykenisse, liedere, gedigte word alles aangewend om God se spesifieke openbaring uit te dra. Met soveel verskillende kreatiewe metodes waarmee ons in die Bybel gekonfronteer word hoe het dit gebeur dat die kerk so onsettend eendimensioneel in haar metodiek geraak het?

Dit is tyd vir die kerk om weer kultureel relevant te word. Dit veronderstel dat ons nie alleen betrokke raak by die homo-seksuele gesprek of kritiek teen die nuutste Harry Potter film uitspreek nie, maar deel van die kreatiewe proses word. Eerstens moet vandag se Christen besef dat daar ‘n kulturele oorlog aan die gebeur is en dat die Christelike geloof besig is om daardie stryd te verloor. Om in reaksie ‘n tipe laer trek mentaliteit in te neem waar ons alleen ‘Facing the Giants’ kyk en na ‘Supercool vir Jesus’ luister gaan ongelukkig nie werk nie. Christelike ouers kan nie hul kinders beskerm van opponerende wêreldbeskouings nie, maar hulle kan hul kinders toerus om met hierdie vals idees in gesprek te tree. Ons word as sendelinge geroep en ‘n sendeling analiseer ‘n kultuur en besluit watse aspek van die kultuur om te hervorm en watter aspek om te verwerp. Hierdie is nie ‘n nuwe opdrag nie en dit was die taak van die kerk vandat sy ‘n hoogs gesofistikeerde Grieks-Romeinse wêreld teëgekom het. Sekere aspekte van daardie kultuur het hulle verwerp as on-Bybels, maar ander waarhede het hulle beskou as konsekwent met die Bybelse boodskap en het dit gevolglik aangepas en omhels. Soveel so dat die Westerse kultuur nog altyd ‘n vermenging is van die klassieke en die Christelike. As Christene moet ons in gesprek tree met hierdie wêreld en die intellektuele onderbou van die Christelike geloof met respek en sagmoedigheid verkondig en verdedig.

Die kerk moet besef dat die sekulêre/ heilige dualisme on-Christelik is en dat oppervlakkige emosionele belewenisse en motiverings praatjies nie volhoubaar is nie. In bogenoemde beskrywing word die kerk ‘n tydelike ontsnapping van ‘n wêreld vol sonde, hartseer en isolasie en daar word min konkrete onderig gegee om sin te maak van hierdie wêreld en om dit te hervorm tot God se koninkryk. Die kerk moet sy intellektuele integriteit herwin. Dit was trouens die kerk wat verantwoordelik was vir die oprigting van die Westerse wêreld se top sekondêre en tersiêre inrigtings. Gevolglik moet die kerk veg om ‘n kultuur daar te stel wat ‘n intellektuele agtergrond gee waarteen die evangelie gehoor kan word. Die Bybel is ook vol van opdragte oor ons intellektuele verantwoordelikheid.

Dit is a.g.v. die kulturele verval en die Bybelse opdrag om denkend met hierdie wêreld om te gaan dat Dialoog gemeente ‘n bestaansreg het. ‘n Gemeenskap wat nie vrees om die groot vrae van die lewe in die oë te staar nie. Nie alleen is dit ‘n gemeenskap wat slegs intellektuele gimnastiek doen nie, maar wat ook poog om op ‘n sosiale en emosionele vlak denkende mense te dien. Dialoog poog om te reageer op kritiese literatuur, sosiale kommentaar en kuns en ook om die Christelike alternatief op ‘n gesofistkeerde en oorspronlike wyse te verkondig. Indien ons as Dialoog Gemeente nie saam die Suid Afrikaanse kerk self ondersoek instel en die kultuur aanspreek nie, gaan ons bloot die nuutste statistiek van ‘n sekulariserende wêreld word.