IETS WAT MY PLA – NAGEDINK OOR VOORVERONDERSTELLINGS – Roedolf Botha

Daar’s ’n ding wat my pla. Dis iets wat my pla oor myself maar ook oor ander mense en instansies. Dis ’n ding wat ek voel besig is om so baie mense, instansies, gelowe, akademiese- en ander instellings skade te berokken. Hierdie konsep vorm en slyp elkeen van ons. Dit bepaal wat ons in die toekoms gaan dink en hoe ons lewens gaan uitdraai. Dit kan ons maak of breek. Dis iets wat ons kan help of verhoed om gesonder en beter besluite te neem. Maar hier is die snaaksigheid oor die ding: dis asof ons nie omgee nie. Waarvan praat ek? Ek praat van voorverondertellings. Aannames. Vooroordele. Vooroordele van mense heens jouself, ander mense en heens organisasies. Vooroordele van organisasies heens ander organisasies en ook heens individue. Elke dag sien ek hoe mense hulle eie of ander mense se voorveronderstellings ignoreer, geheel en al ongeërg oor die moontlike resultate of ellende wat dit kan meebring.

Kom ek neem myself eers as voorbeeld aangesien dit by myself is waar ek dit die meeste agterkom. Laat ek ’n voorbeeld neem uit die akademiese wêreld alhoewel hierdie saak geld vir letterlik elke fasset van enige mens se lewe. Ek is tans besig met ’n Ph.D en spandeer weekliks heelwat tyd aan die skryf van ’n proefskrif. Byna elke keer wanneer ek besig is om te skryf kom ek voor interessante keuses te staan, keuses oor watter bronne ek volgende moet raadpleeg of, tot watter gevolgtrekkings ek moet kom, of watter rigting die studie volgende moet inslaan. Maar kom ek wees baie prakties. Ek kry gereeld die geleentheid om ’n spesifieke artikel, poel van kennis of argument van iemand anders te ignoreer. En soms is die versoeking geweldig groot om dit wel te doen. Hoekom? Want dit strook nie met die rigting waarin ek die studie graag wil laat vloei nie. Ek het reeds besluit wat ek wil “bewys”. Ek wil nie meer anders oortuig word nie, want dan moet my hele standpunt verander aangaande iets wat reeds vir my belangriker geword het as die blote resultaat van die studie self. Ek stel dus nie regtig meer belang daarin om werklik uit te vind wat waar is, die beste is, die mees waarskynlike is nie, want ek het reeds besluit dat ek nie wil aanvaar wat die bepaalde nuwe kennis kan impliseer vir die bepaalde studie nie.

Maar wat my elke keer soos ’n vuishou tussen die oë slaan is nie dát hierdie moontlikhede versoekings raak nie maar eerder hoe máklik is dit elke keer is om die bewoording van die studie so te manipuleer en te beredeneer dat ek my saak duidelik en met oortuiging kan stel. Dit is regtig só maklik. Geheel en al té maklik! En hier is die gevaar: Niemand sal dit weet nie. Niemand sal my kan kwalik neem nie en niemand sal my kan verantwoordelik hou nie. Niemand nie. Ek het mos my bronne en my argumente om te bewys dat ek wetenskaplik te werk gegaan het. Diegene wat in die akademie is sal weet dat daar genoeg bronne, akademici en artikels is om byna enige opinie onder die son te staaf. My studieleier kan my gedeeltelik help, maar uiteindelik sal selfs hy nie weet of ek werklik eerlik was met my studie nie. Studieleiers kan ons probeer begelei en adviseer asook alternatiewe bronne voorstel, maar uiteindelik kan hulle nie kwalik geneem word vir die eindresultaat van die studie van hulle student nie. Hulle kan net toesien dat daar ’n wetenskaplik verantwoordbare proses gevolg is deur die loop van die proses, dat die kernbronne uit die studieveld geraadpleeg is en dat die argumentasie logies verantwoordbaar is.

Hier is nou wat my pla. Indien dit vir my so deksels maklik is om gesagvolle bronne te ignoreer en/of die studie te manipuleer, hoeveel akademiese studies het ons nie vandag wat as die Wet van Mede en Perse links en regs aangehaal word, maar wat in werklikheid gemanipuleerde resultate voort gebring het omdat die Ph.D kandidaat nie eerlik was (of bekwaam) in sy soeke na die beste nie. Of die studie nou gedoen is by Oxford, Yale, Stanford of Tuks, agter elke Ph.D studie sit ’n méns met ménslike voorveronderstellings wat die mag en geleentheid het om dinge te draai soos dit haar pas, al is dit onderbewustelik. Die vraag is nou, in hoe ’n mate is dit binne-in ons vermoëns om werklik by die waarheid uit te kom?

Hierdie idee kan ons verder toepas op byna enige area van ons lewe. In huwelike word soveel verhoudingspyn veroorsaak omdat die een party in die hart besluit het dat die ander een nou maar eenmaal so of so is en daar is geen ruimte vir ‘n anderse oortuiging nie. Die een party is oortuig dat een handeling die beste is ivm die kinders se opvoeding. Die ander party wil niks weet nie en skop hardekwas vas. Geen ope dialoog nie. Alles ly skade maar daar is geen ruimte vir oortuiging nie. Of neem die pa wat in sy gemoed reeds besluit het dat sy dogter in die Regte moet studeer al het sy haar hart gesit op ’n meer kunssinnige rigting. Hy kom baie oop voor en laat sy dogter toe om te praat maar in sy hart het hy reeds besluit, maak nie saak wat sy dink nie. En die snaakse ding is dat hierdie soort van hardkoppigheid by almal voorkom. Ek ken ’n oulike ou vroutijie, sag, sensitief, so lyk sy van buitekant af en almal is mal oor haar. Sy het wel sekere standpunte oor iets soos die politiek, godsdiens of wat ook al. Maar in haar hart is haar arms oor sekere sake, ferm saamgevou en haar nek is styf. Sy glimlag te pragtig maar sy is onbeweeglik en onversetlik in haar opinies. Dis soms die mense wat die sagste en mees sensitief voorkom wat die hardnekkigste kan wees. Elke mens het ’n opinie en of hy dit nou openlik probeer verkoop, of saggies vir haarself hou, elkeen dink hy’s reg en bitter min mense is oop vir oortuiging.

Hier’s die punt. Dit lyk vir my asof dit vir mense in die algemeen (myself ingesluit) belangriker is om huidige oortuigings en standpunt te behou as om vas te stel wat die waarheid is, wat die beste is. Waar ek dit die heel meeste sien is wanneer dit kom by kwessies van geloof en ongeloof. Mense wat glo in God is soms so hardkoppig en hardnekkig dat jy hulle nie beweeg om intelligent of ten minste nuut te dink in enige ander rigting nie. Hulle beliefs is mos nou gesanksioneer deur die Bonatuurlike self! So glo hulle. Elkeen het hulle bybelvesersies en jy kan niks doen om hulle te probeer oortuig nie. Of soos ’n vorige prof van my gesê het, “Elke ketter het sy letter”. Wat hulle egter nie besef nie is dat hulle behalwe hulle versies sit met voorveronderstellings! Hulle lees net die versies raak wat vir hulle saakmaak en lees die res gemaklik mis, en dit terwyl hulle altyd begin met “Ja, maar die Bybel sê…” So redeneer sommiges ten gunste van apartheid en ander daarteen, sommige ten gunste van gay regte en ander daarteen, sommiges ten gunste van kontemporêre musiek in die kerk ander weer daarteen. Sommiges ten gunste van ’n sekere spiritualiteit en ander weer teen ’n ander. Maar almal is onbeweeglik! Almal sit in die kleingroepie, luister na mekaar en glimlag te soetjies, maar elkeen bly by sy eie ding. En die moeilikste mense van almal is soms die geestelike leiers, diegene wat veronderstel is om van beter te weet. Ek moet egter darem eerlik wees: Daar is ’n groepie wat werklik oop is en belangstel om regtig te weet…

Maar aan die kant van ongeloof of ten minste agnostisisme gaan dit nie veel beter nie! Anti-geloof voorveronderstellings word bitter moeilik afgebreek. Ek hoor gereeld van mense wat ‘vergoed hulle rug op geloof gedraai het’ of agnostici wat beweer ‘in die Bybel sal ek nooit kan glo nie’, of mense wat reeds besluit het dat enige mens wat in Iets glo van hulle sinne beroof is of verstok is in hulle denke. Is dit? Werklik? Het jy al werklik iets gelees uit intelligente teologiese kringe om jou standpunt van ateïsme of geregverdigde ongeloof te toets? Of neem neem jy bloot aan dat jy weet waarom, byvoorbeeld, Christene glo wat hulle glo? Besef jy dat daar gereeld mense (onder wie verskeie intelletueles) van buite geloof na geloof oorkom bloot op grond van die meriete van die filosofiese koherensie van die Christelike geloof self? Daar is soveel mense wat vashou aan wat hulle dink, wat veroordeel wat ander mense dink sonder dat hulle hoegenaamd ’n idee het waarom hulle opponente wel glo wat hulle glo. Daar is byvoorbeeld in ons eie land groepe agnostici wat daarop aandring dat hulle geweldig “oop” is in hulle denke op soek na lewenswaarheid. Terselftertyd veroordeel hulle die kerk (dalk soms met goeie reg) oor sy verkramptheid. Hoe langer ek egter met hierdie mense gesprek voer en kuier hoe meer kom ek toe agter dat hulle oor netso veel verkramptheid beskik soos die Christene vir wie hulle beskuldig. Hulle is so min oop soos die man in die maan. Hulle gebruik die soete taal van openheid maar hulle het ook maar reeds besluit wat hulle wil glo en veral wat hulle nie wil glo nie! Sodra hulle sien hulle kan jou nie oortuig nie en jy vir hulle ore aansit in die gesprek, verloor hulle alle aanvanklike belangstelling om verder te kuier en gesprek te voer. Alhoewel hulle aan die een kant uitsprake maak dat ons almal mekaar moet aanvaar en elke mens toegelaat moet word om glo wat hy/sy wil, is hulle maar alte gewillig om jou wel tog wel te probeer bekeer tot hulle eie standpunt. Ek moet eerlik wees. Daar is ook hier en daar die uitsonderings van mense wat regtig die waarheid wil ken. Dit lyk my egter dat die mens as ’n reel, nie regtig in waarheid geïnteresseerd is nie…

En dit terwyl die implikasies ingrypend kan wees! Die pa wat nie na sy dogter luister nie kan die verhouding permanent beskadig. Die vrou wat nie bereid is om die voorveronderstelling oor haar man te laat vaar nie, kan vir altyd ongelukkig bly, daardie gevoelens van ongelukkigheid op haar man projekteer en op hierdie wyse kan wedersydse gevoelens van onvervuldheid in die verhouding kweek wat later kan lei tot egskeiding en groot pyn. Mense wat nie hulle gemoedere wil oopmaak heens ander se opinies nie, kan self in ernstige ideologiese slaggate trap wat vir hulle groot psigiese of emosionele skade kan berokken. Intuïtief weet mense dit en steeds kom daar baie selde ’n openheid wat verandering in opinie bring.

Ek wil nie graag misvertaan word nie. Ek dink dat lewenswaarheid kenbaar en waarneembaar is in hierdie wêreld. Hans-Georg Gadamer het gesê dat die lewe ’n manier het om homself te openbaar aan jou! Ek glo dit ook. Ek glo dat kennis en waarheid nie geheel en al so gekompliseerd is soos wat sommiges dit maak nie, ten spyte van al die verskillende stemme. Maar om waarheid te bekom moet ieder en elk van ons een eienskap najaag met alles in ons: ’n ware oop voorveronderstelling, ’n gewilligheid om werklik te luister en te gaan waarheen die getuienis ons ook al lei, al is dit ook hoe pynlik of ongemaklik. ’n Werklik eerlike openheid om nie net die ‘fight’ te wil wen, of ‘n opinie te wil behou nie, maar om eerlik en nuut elke dag te kyk en te luister na die lewe.

Ek wonder of dit is waarom die antieke wysgeer gesê het, “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan want dit bepaal jou hele lewe.” (Spreuke 4:23).