KAN ‘N MENS IEMAND VAN CHRISTENSKAP OORTUIG? – Herman Carstens

Het logiese redevoering of argumente ‘n regmatige plek in wanneer dit kom by bekering, of is dit juis dit; bloot geloof? Hoe behoort ons as Christene die opdrag om te “glo soos ‘n kind” te verstaan? Hoe is die Heilige Gees teenwoordig in wanneer iemand tot bekering kom?

Baie opregte Christene het ernstige besware teen die gebruik van rasionele argumente tydens Christelike evangelisasie. Hulle voer aan dat ‘n mens nie iemand van geloofsake kan oortuig nie, en dat Jesus self die opdrag gegee het dat ons soos kinders moet glo. Hierdie idee is na my mening die samevloeiing van verskeie teologiese en filosofiese bewegings met ‘n interessante geskiedenis.

In die 1500’s het Johannes Calvyn saam met Martin Luther die Protestantse beweging begin en weggebreek van die Katolieke kerk af. In die lekeverstaan van Calvyn het hy o.a. gesê dat die mens totaal verdorwe is en nie uit sy eie uit vir God kan kies nie. Verder het hy aangevoer dat ‘n mens alleenlik deur geloof in Jesus Christus gered kan word en nie deur goeie werke soos die Katolieke wou aanvoer nie. Albei hierdie idees verteenwoordig waarheid, maar het later vorms aangeneem wat Calvyn nie noodwendig ingedagte gehad het nie.

Flits twee honderd jaar vorentoe: die Verligting (Renaissance) is in volle swang, en bring ongekende intellektuele vooruitgang. In hierdie tyd begin ‘n subtiele skeiding tussen die teologie en die wetenskap plaasvind. Waar Universiteite voor die Verligtingsera gestig is met die idee dat alle waarheid (in die kunste, filosofie, teologie sowel as die wetenskap) een waarheid is, naamlik God se waarheid, is dit nou nie meer so nie. Die teoloog, filosoof en wetenskaplike se paadjies het geskei, en dié velde funksioneer afgesonder van mekaar. Soos Polisiekar dit stel: “Kan iemand dalk ‘n god bel/en vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie”.

Flits nog 300 jaar vorentoe. Vir baie gelowiges is die geskiedenis nie relevant nie, maar ‘n paar dinge is vir hulle seker: die mens, sy verstand en sy slimpraatjies is korrup. Wat hieruit volg is dat geloof soms ten spyte van rede gehandhaaf behoort te word. In onbewaakte oomblikke kan die grootheid van iemand se geloof dan gemeet word aan die omvang van die teenstrydighede wat hy/sy tergelyketyd kan akkommodeer. Vandaar die agterdog waarmee sommige wetenskaplikes en filosowe geloof beskou.

In ‘n poging om hierdie kwessie beter te verstaan het ek gevind dat as ‘n mens laasgenoemde idees versigtig oorweeg, dit dan eintlik baie te make het met die voorveronderstellings waarmee jy die Bybel lees. Mens onderstreep sekere versies en ignoreer weer ander. Ironies genoeg sal mense in gesprekke oor hierdie onderwerp hoogs rasionele argumente gebruik om iemand anders te probeer oortuig dat “mens nie rasionele argumente kan gebruik om andere van geloofsake te oortuig nie”. Die gedagte is dat genoegsame getuienis dalk wel op die waarheid oor wat werklik die geval is kan dui (soos die algemene siening in enige area van ondersoek), maar dat geloof van hierdie groep uitgesluit is.

In reaksie op laasgenoemde siening wil ek onmiddellik erken dat geloof en die rede nie dieselfde ding is nie. Om egter te sien dat geloof en die rede nie noodwendig in konflik is nie, moet ons vra na wat met begrip “geloof” bedoel word.

Die kerkvaders en Hervormingsdenkers deur die eeue heen het geloof met drie nuttige aspekte gedefinieer: Notitia, Assensus en Fiducia. Om te kan glo het ons begrip nodig van wat geglo moet word (notitia: “to take note of”). Meer nog, om te kan glo is om oortuig te wees dat wat ons glo ooreenstem met wat werklik is (assensus: “to assent to”). Soos wat die duiwels in Jakobus 2:19 byvoorbeeld oor God glo: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” Tog is dit moontlik om oortuig te wees dat iets so is, maar om nie jou vertroue daarin te plaas nie – soos dieselfde duiwels wat wéét dat God een is, maar steeds rebelleer. Die derde aspek van geloof dui dus op ‘n verhoudings-element: om op Jesus te vertrou is om vir die Here lief te wees. Hierdie geloof (fiducia) is soos die geloof van ‘n kind wat ten spyte daarvan om vrae te vra – en dikwels mag ons meer vrae as antwoorde hê – in soete vertroue van sy/haar Vader afhanklik is.

Om nie-Christene dus van Jesus te vertel sodat hulle kan verstaan (notitia) en dan egter te verwag dat hulle bo-oor assensus reguit na fiducia moet spring, is onbillik. Dit sou onbillik wees as ‘n Moslem, Boeddhis of ateïs dit van ons vra! As apologete, selfs as gewone Christene, behoort ons liefdevol tyd te maak om aan mense te verduidelik hoekom Christenskap as redelik gesien kan word deur die nugterdenkende mens. Alhoewel ons dus erns maak met mense se intellektuele besware, behoort ons bewus te wees dat emosionele besware en die probleem van die wil dikwels ‘n groter rol speel in waarom mense versigtig, selfs vyandig, is tot die verhoudings-element inherent tot geloof in God.

In samevatting. Geloof is nie gegrond in irrasionaliteit nie. Geloof is wel super-rasioneel; dit gaan oor méér as net die intellektuele, maar dis nooit minder as die rasionele nie. Die rol van die apologeet is om deur die Heilige Gees gebruik te word om aan mense te wys dat hulle oop kan wees vir gegronde kennis oor God sonder dat hulle hoef te voel dat dit intellektueel oneerlik sou wees om hul vertroue in hierdie God te plaas. Wat iemand egter met daardie kennis maak – of hulle wél op die ou end hul vertroue in die God waarvan hulle kennis dra gaan plaas, is iets waarby die Heilige Gees betrokke is op ‘n manier waarop ons as die bringers van Goeie Nuus nie kan wees nie.

Herman blog by standard-deviations.com