KANS, OF DIE DANS? – Herman Carstens

Vir baie mense is die lewe soos daai ou Space Invaders TV-speletjie. Daardie een waar jy jou ruimteskip onder aan die skerm heen en weer beweeg en al die monstertjies en struikelblokke wat van bo af aangevlieg kom moet raakskiet of ontwyk. Hoe beter jy die speletjie van die lewe speel, hoe hoër raak die level en hoe vinniger en hoe meer raak die monstertjies wat jy moet afskiet om te oorleef en aan te hou speel. Sukses word dus gemeet aan beweging, aan lig reis, en aan jou “telling”. Dis geen wonder dat ons dikwels so vaagweg soos ontheemdes in ons eie huise voel nie.

Die filosoof Danie Goosen beweer dat die meeste mense vandag die wêreld as ‘n “aporetiese, afgrondelike werklikheid” ervaar – iets daar buite, iets geskei van jouself, vreemd, gans-anders, amper vyandig. Vir hulle is “die wêreld” dit wat indring op jou outonomie, dit wat jou keuses beperk of wat jou in ‘n sekere rigting forseer, wat jou planne in die wiele ry. Ons lewens bestaan dan tot ‘n groot mate uit reaksies op hierdie strominge wat ons nie goed kan voorspel nie.

Vir die materialis wat glo dat die werklikheid slegs uit die fisiese om ons bestaan, is hierdie nie ‘n opbeurende gedagte nie. Kans, die Noodlot en Geluk is die drie-eenheid wat sy tengerige greep op sy lewe óf verstewig óf laat glip. Vanuit waarskynlikheidsteorie weet ons dat lukraakheid (“randomness”) maar net die woord is wat ons gebruik om uitkomste te beskryf wat ons nie met sekerheid kan voorspel nie. Buiten kwantum-verskynsels is alle prosesse in ons heelal deterministies van aard: as jy dit ten volle kon beskryf, sou jy dit perfek kon voorspel. Dit is Newton se meganistiese heelal. Hierdie “masjien”-analogie waar alles perfek-voorspelbare reaksies is, geld vir die weerpatrone daar buite sowel as vir jou psige: jou mees private gedagtes en dade word deur dieselfde wette bepaal. Omdat ons nie alles perfek kan voorspel nie, gebruik ons statistiek, sielkunde en ander dissiplines om patrone in die uitkomste van hierdie onsigbare invloede te benoem. As ons ‘n perfekte foto van die heelal op enige oomblik kon neem (Heisenberg se onsekerheidsbeginsel sê ons kan nie), sou ons die toekoms perfek kon voorspel, en waarskynlikheidsteorie sou sy moses teëkom.

Baie mense wat nie in iets spesifiek glo nie, beroep hulle steeds op die noodlot, oftewel Fate. Dit is ‘n poging om goedgesinde – amper menslike – intelligensie en betekenis aan die bewegings van die groot, geheimsinnige masjien wat die heelal is, toe te skryf. Maar helaas, vir die materialis is hierdie soort antropomorfisme eintlik ‘n bedrieglike skyn – en in ons helderder oomblikke weet ons dit. Verder is hierdie groot masjien besig om onkeerbaar af te wen soos wat die bruikbare energie in die heelal opraak. Alles sal eendag tot ‘n koue, antiklimaktiese stilstand kom wanneer die tweede wet van termodinamika sy volle uitwerking gehad het. Dus is alles wat ons doen op die ou einde maar tevergeefs.

Die meeste van ons verkies om nie in die rigting van hierdie groter prentjie te kyk nie, en eerder net te swenk en te skiet soos die monstertjies op ons pad verskyn. Ons val in die gemaklike ritme van swenk en skiet, verbruik en geniet, en weer swenk en skiet, verbruik en geniet. Selde langs die pad probeer ons ‘n klein bietjie sin of betekenis in ons lewens te skep.

Dit was nie altyd so nie.

In die donker eeue het primitiewe mense geglo dat alles iets beteken, eerder as dat niks enigiets beteken nie. Seisoene, die ritmes van die maan, blomme, die simboliek van ‘n leeu wat dui op ‘n koning, wat dui op die Koning van die Heelal – vir die Middeleeuse Christen was die wêreld deurdrenk met betekenis. Hulle het dit plenum genoem: die gedagte dat die geskape wêreld perfek “vol” is, dat alles ‘n plek en ‘n doel het, simboliek het – ‘n wonderwêreld. Vir hulle was God vir die wêreld wat die meesterkunstenaar vir sy kunswerk is, hetsy dit ‘n gedig, beeld of simfonie was: niks was toevallig nie, alles het gepas. Hoe dieper hulle gekyk het, hoe meer skoonheid het hulle ontdek.

Ons het intussen baie vergeet.

Ons kan die lewe as lukraak beskou; ‘n eerlike uitvloeisel van naturalisme. Of ons kan alles, van die helder hemelliggame in hulle wentelbane, tot die saailing wat ontkiem op die lande na die reën, tot jou onlangse onverwagse ontmoetings met mense in ons daaglikse handel en wandel, beskou as bewegings in ‘n kosmiese dans. Dis nie te sê die wêreld gaan perfek wees nie, inteendeel: ons het die keuse om saam te dans, en mense is maar lomp. Maar hoe meer ons oefen, hoe minder trap ons op ander mense se tone, en hoe makliker hoor ons die ritme wat die choreograaf in gedagte gehad het, en hoe meer geniet ons dit. ‘n Goeie choreograaf neem die dansers se tekortkominge in ag wanneer danse uitgewerk word. ‘n Perfekte choreograaf werk dus die Dans so uit dat selfs die lompheid van die dansers inpas by die groter beweging. Vir Christene en nie-Christene, sonder uitsondering, is die uitnodiging oor die hemelruim in letters geskryf, só groot dat ons dit soms mis:

Dance, then, wherever you may be

I am the Lord of the Dance, said He

And I’ll lead you all, wherever you may be

And I’ll lead you all in the Dance, said He.

Titel ontleen an Eugene Warren, Christographia XIV

Lord of the Dance se lirieke deur Sidney Carter

Herman blog by standard-deviations.com