As Christen het ek nog altyd gedink dat tradisionele ateïsme, agnostisisme en ander vorme van skeptisisme ernstige en noemenswaardige denkstrome was, gevoed uit ‘n poel  van diep intellektuele refleksiemet ‘n gesonde plek in die samelewing. Die ortodokse Christelike geloof was nog altyd gepasuitgedaag deur waardige en diepdenkende intellektuele teenstanders. As gelowige het ek en baie soos ek dit nog altyd verwelkom aangesien ernstige skeptisisme ons aanspreeklik hou oor ons eie denke sowel as om ons te help om dieper te dink oor die geloof wat ons bely.

Saam met David Bentley Hart moet ek egter sêdat ek vandag ietwat melankolies en nostalgies terugverlang na eras in die menslike geskiedenis waarin ons geloof werklik uitgedaag is deur ernstige nie-gelowige denkers.Ek het lanklaas iets uit ‘n skeptiese hoek gehoor waarin ek regtig my tande kon inslaan.Ek noem ‘n paar gedates wat deurHart geïnspireer is en ook sommige van my eie.

Van die vroegste tye af het die Christelike geloof die onverbiddelike vyandskap afgedwing van werklik verbeeldingryke en gesofistikeerde kritici soos Celsus en Profirius, wat darem die integriteit gehad het om ten minste die objek van hulle kritiek werklik deeglik te bestudeer vir wat dit is voordat hulle dit afskiet.Vandag is dit egter hoog mode om tradisionele geloof te verwerp sonder dat daar werklik erns gemaak word om ondersoek in te stel na wat dit nou eintlik is wat verwerp word. Baie kritici van geloof het nog nie eers tradisionele Christelike apologete soos CS Lewis gelees nie terwyl hulle met roerende passie en ‘n oormatige selfversekerdheid aangaan asof geen denkende mens meer kan glo in ‘n persoonlike God wat vandag nog ingryp nie. Selfs sogenaamde prominente voormalige Christene wat hulle geloof verlaat het – soos Sakkie Spangenberg en my goeie vriend Abel Pienaar – doen dit skynbaar omdat hulle eie vrot teologie in die dae toe hulle nog Christene was, nie bestand was teen die vrae van die lewe nie. Nou sit hulle maar net steeds met hulle vrot denke buite die kerk, al is dit in die naam van wetenskap, historiese bewussyn, intellek en “vrydenkendheid”. Vandag se skeptici soos Dawkins en sy sogenaamde Nuwe Ateisme- met George Claassen, Piet Craucamp en Hans Peitersen as Suid-Afrikaanse eweknieë -, John Shelby Spong en Markus Borg en hulle onnadenkende grype na panenteïsme, Sakkie Spangenberg en sy krampagtige vashou aan Welhausen se modernistiese siening van die geskiedenis en Philip Kennedy se gebrek aan voldoende hermeneutiese denke, is nou nie eintlik aardskuddend van aard nie. Meeste van hierdie denkstrome is bloot maar heropwekkings van oud en uitgediende filosofiese oorblyfsels uit ‘n verloëjaargang. Vergelyk dit nou met sommige skeptiese reuse in die geskiedenis. In die agtiende eeu was David Hume ongeëwenaar in sy vermoëomgeloof te skud waar naïewe en onnadenkende sekerhede voorheen geheers het.Hy het intellektueel aggressiewe en deurdagte rasionele metodes gebruik wat werklik vandag nog bewonder kan word en waaruit mens baie kan leer. En alhoewel skeptici soos die puttige ateïste, Voltaire, en Diderot – wat albei deur Jesuiete opgelei is en later afskeid geneem het van hulle geloof – nie myns insiens altyd geheel en al waterdigte argumente gebruik het nie, het hulle ten minste oor‘n sekere waadrige elegansie en redelike morele konsekwentheid beskik wat mens kon waardeer. Edward Gibbon, ten spyte van sy eie voorveronderstellings aangaande die ontstaan en groei van die Christelike geloof, was ‘n uiters begaafde skrywer en akademikus wie se konklusies berus het op intensiewe werk en diep refleksie.Ook die buitengewone filosofiese en wetenskaplike denke van die negentiente eeu het die Christelike geloof voorsien vanformidabeleteenstanders metverrykende bydraes en stof tot nadenke. Een van die mees indrukwekkendes was sekerlik Friedrich Nietzche wat beskik het oor geweldige kulturele insigen wat ten minste groot waardering en begrip gehad het vir die grootsheid en implikasies van die Christelike geloof. As die grootste kritikus van geloof het hy ‘n diep begrip gehad vir die wese van Christenskap asook vir die morele gevolge van wat sou gebeur indien ortodokse Christenskap uit die kultuur sou verdwyn. Hy het die Christelike geloof verwerp juis vanuit ‘n diep begrip vir waarvoor dit gestaan het.Hy het nie – soos baie populêrelinkervleuel denkers vandag – homself die gemaksugtige, selfgeregtelike fantasie gegunnaamlik dat die geskiedenis van die Christendom maar bloot ‘n vertoning was van geweld, onderdrukking en seksuele neurose nie.Hy het besef dat dit juis die Goddelike Jesus was wat die samelewing voorsien het van waardes soos genade, onvoorwaardelike liefde vir die vyand en wedersydse menslike respek. Uit sy publikasies soos The Anti-Christ en The Twilight of the Idols is dit redelik duidelik dat hy homself nie mislei het deur te dink dat die mensdom kan wegdoen met die Christelike geloof met sy Goddelike Jesus, terwyl die Christelike moraliteit behou kan word in die een of ander verdunde vorm soos byvoorbeeld ‘n sentimentele liberale sosiale gewete nie.Baie van vandag se kritici teen geloof weet niks meer van die Christendom se tweeduidend-jaar-geskiedenis nie, as ‘n paar tragiese beelde van  bloeddorstige kruistogte en sadistiese inkwisisies, ‘n paar verdoemende feite en nog ‘n hele paar lagwekkende verdigsels wat as feite voorgehou word. Alhoewel eksistensie-filosofie nie meer vandag so gewild is nie kan daar ten minste van hierdie denkers gesê word dat hulle redelik konsekwent was in hulle argumentasie,  ten minste tot top ‘n punt. Ateïste soos Jean-Paul Sartre en Albert Camus het braaf erken dat die lewe maar sukkel om betekenis te kry sonder God en dat die morele waardes wat vandag so hoog opgehou word in die Weste nie so maklik  af te lei is uit ‘n natuurlike, sekulêrebeskouing van die wêreld nie. Alhoewel Bertrand Russell alreeds ‘n paar gate toon in sy filosofiese mondering kan hy ten minste waardeer word vir sy skerp wiskundige logika en sy sporadiese legitieme kritiek op kerk en oppervlakkige spiritualiteit.

Wanneer daar egter gekyk word na die huidige publikasies wat vandag pryk op winkelboekrakke, en geluister word na uitlatings op die televisie en radio, dan kan dit met redelike misnoë gesê word dat daar werklik ‘n drastiese afname was aan die kwaliteit van stemme teen die Christelike geloof.Moet my nie verkeerd verstaan nie. Daar is inderdaad interessante skeptici om te lees soos die ateïsteAlain de Botton met sy publikasie Atheism 2.0, Michael Ruse van die Staatsuniversiteit van Florida en Thomas Nagel van die Universiteit van New York. Daar is ook verfrissende skeptiese teoloë soos Dale Alison en Markus Borg. Wat my egter frustreer en selfs bekommer is my skeptiese vriende se fasinering met sommige oppervlakkige, bevooroordeelde denkers wat hulle besig hou met retoriese speletjies eerder as ernstige akademiese beredenering. Die algemene publiek kan nie altyd kwalik geneem word vir hulle naïwiteit nie. Die minste wat elkeen egter móét doen as hulle enige objektiwiteit wil behou is om wanneer iemand buite sy eie veld lees, hy ten minste verskillende opponerende opinies moet lees uit hoofstroom akademiese sirkels. Dit bekommer my egter dat onskuldige mense vir wie ek omgee op sleeptou geneem word deur mense met onsuiwer agendas of ten minste ongesonde voorveronderstellings wat hulle eie twyfelagtige gesindhede voorhou as goeie filosofie en hulle eie emosionele vooroordele vermom as intellektuele eerlikheid. Omstandighede in die  boekdrukindustrie was nog nooit so gunstig vir skynheilige en ondeurdagte tirades teen godsdiens, en meer spesifiek, die Christelike geloof nie. Nog nooit vantevore was daar soveel gasvryheid teenoor bevooroordeelde joernaliste, fundamentalistiese bioloë, storievertellers en amateur-filosoweom geloof in God af te maak as die een of ander vorm van breindisfunksie of primitiewe barbaarsheid nie. Die grond is inderdaad ook ryp vir talle misleide teoloë om hulle sensasionele idees direk aan te bied aan die publiek, heel dikwels sonder om dit eers te onderwerp aan hulle akademiese peergroep soos die gewoonte behoort te wees. Dis nog altyd vir ware akademici ‘n hengse klip in die skoen dat die denkers wat die meeste aandag kry in die publiek en media, en wie se boeke heel dikwels die beste verkoop, nie hoofstroom denke verteenwoordig nie maar soms kantlynskrywers is met snaakse, marginale en alternatiewe standpunte. Dis gewoonlik afgewaterde maar sensasionele idees soos hierdie wat  deur ywerige joernaliste toegeval word soos aasvoëls. Vandag se argumente teen geloof is heel dikwels niks meer as vernuftige retoriek wat gesofistikeerd klink vir meeste leke maar wat skaars aandag kry in akademiese kringe.‘n Paar voorbeelde mag dalk gepas wees.

Eerstens, omgeloof te verwerp omdat ons nie kan verklaar wie God dan sou geskep het nie verteenwoordig volgens David Robertson, die redenasies van ‘n ses-jarige. Toe ek Dawkins se The God Delusion gelees het en kom by sy hoofstuk Why there almost certainly is no God, het ek in antisipasie gewonder wat hierdie “killer”argument van hom dan sou wees wat geloof vir ewig sou kelder en waarmee Nietzche nie eers vorendag kon kom nie. Toe blaai ek om en lees: “Who designed the Designer?” Ek was geskok. Nie oor die briljansie van die argument nie maar oor die onkritese naïwiteit daarvan. My eie seun het op tien-jarige ouderdom beter skeptiese vrae gevra as dit.Is dit regtig die beste waarmee Dawkins en sy mede-“Dawkiniete” kon opkom? Alhoewel die idee ook deur Bertrand Russell gebruik is in ‘n ietwat meer gesofistikeerde vorm, is dit nie ‘n argument wat vandag ernstig geneem word in Filosofiese sirkels nie, vir twee redes:1. Inherent in die vraag is ‘n sirkulêre redenasie: As ons sou kon uitvind wie God gemaak het, kan die vraag bloot herhaal word deur te vra watter God het hóm dan gemaak? En indien ons dit beantwoord het, sal ons weer moet vra wie het die núwe God gemaak en dan weer wie hethómgemaak? So kan ons aangaan sonder enige vordering of vooruitgang. Wanneer jy dus die vraag gevra het het jy ‘n vraag gevra wat niemand enigsins help nie en waarop die antwoord geen nuwe insig bring of ooit kan bringnie. Dis dus – filosofies gesproke – ‘n total nuttelose vraag. 2. So ‘n vraag toon ‘n astronomiese gebrek aan insig in die God van teïsme. Die fout hier is die aanname dat so ‘n God self vasgevang sou wees binne-in tyd en ruimte. Indien ‘n teïstiese God sou bestaan sou Hy egter buite tyd en ruimte bestaan en totaal en al selfonderhoudend wees. Dis juis die punt.‘n Geskape Goddelike wese sou egter nie eers voldoen aan die naam God volgens teïstiese definisie nie.Die Dawkiniete moet maar weer gaan dink.

Om tweedens gedurig te verwys na die geweld en onreg wat daar in die naam van Christenskap gepleeg is as rede om jouself te distansieer van die Christelike geloof is net so lagwekkend naïef al is die historiese realiteit daarvan tragies en hartseer. Behalwe vir die ewe jammerlike tendens dat baie van hierdie aangehaalde historiese tragedies tans dikwels foutief en onakuraat gebruik word in populêre publikasies vandag  – soms deur die mees prominente denkers – sou iemand soos Nietzche sy neus hiervoor opgestrek het en sulke redenasies met netsoveel minagting bejeen as waarmee hy die Christelike pietisme en baie ander inkosekwenthede van sy tydbejeen het.Hoe kan enige beweging verwerp word bloot op grond van swak verteenwoordigers van so ‘n beweging? Daar is al soveel onreg gepleeg in die naam van byvoorbeeld die wetenskap, politiek, welsyn, demokrasie en besigheid en tog hou ons nie op om te glo in hierdie deugde of deel te neem aan hierdie aksies nie.Waarom nie?Want ons het al geleer dat die grootste kosbaarhede, waarhede en wyshedein die lewe altyd misbruik sal word deur selfsugtige mense wat dit sal probeer kaap vir hulle eie gewin. Hitler het dit ook gedoen met sy aanvanklike gebruik van Christelike taal in sy bekende toespraak in 1922, omdat hy die steun van die Christelike middelklas wou bekom. Die voorstaanders van apartheid het dit misbruik vir eie gewin; so ook as baie ander in die geskiedenis. Dit sal ook weer gebeur in die toekoms.Hoewel tragies, is so ietseintlik heeltemal te wagte. Hoe kan enige persoon egter dink dat geweld of verdrukking wesenlik of kernagtig deel isvan die hart van die Christelike geloof wanneer die Leier daarvan in sy hooftoespraak in die Bybel daarop aandring dat sy volgelinge hulle vyande moet liefhê, die ander wang moet draai en diegene moet seën wat hulle vervolg? Om – soos baie kwasi-denkers vandag – desperaat te gryp na ‘n paar gewelddadige tekse in die Ou testament om die sogenaamde barbaarsheid van geloof te illustreer sal ook nie deug nie. Enige persoon wat die Bybel lees as ‘n verhaal van ontwikkeling – soos wat hy gelees behoort te word – begryp en verstaan dat die storie nie so eindig nie, dat die Nuwe Testament eerder op ‘n hoogtepunt afsluit met die finale boodskap van liefde, vergifnis en ‘n bediening van versoening. Praat met meeste ernstige historici – gelowig of nie-gelowig – en hulle sal beaam dat Jesus en die Christelike beweging in die geskiedenis juis in ‘n groot mate verantwoordelik was vir die vestiging van die waardes van liefde en wedersydse respek wat vandag in die Weste heers.

‘n Derde ou-vrou-storie wat die ronde doen is dat Jesus sy Godheid eers gekry het in die vierdie eeu N C met die Konsilie van Nicaea toe Konstantyn die diverse wêreld waarin hy geleef het wou verenig onder een godsdiens.Hierdie standpunt is so banaal dat dit enige historikus wat sy sout werd is sal laat floute kry. Steeds volhard dit egter hardnekkig deur die monde van selfaangematigde populêre skrywers en selfs sommige teoloë wat veronderstel is om van beter te weet. Die vraag wat telkens deur my kop maal wanneer ek oorbluf in sulke stellings vasloop, is: “Wéét hulle dan nie…!?” Weet hulle dan nie dat die kontroversie oor Jesus ontstaan het in 318 nC tussen Arius en sy biskop Alexander nie? Beide hierdie mense het ‘n hoë siening van Jesus gehad en in sy Godheid geglo maar wel verskil oor hóé presies hy God was. Alexander het geglo Jesus is gelyk aan die Vader en Arius het geglo dathy net-net minder as die Vader was. Hierdie kontroversie vang toe die oor van Konstantyn en hy probeer dit toe oplos deur die kerkleiers by mekaar te kry om te besluit. Hulle besluit toe op ‘n formulering wat gebaseer is op Tertulianus se wydaanvaarde formule jare voor sy dood, reeds in 220 nC:

“God is one substance, three persons; Jesus is one person, two natures”.

Die belangrike punt is egter dat niemand Jesus se Godheid “uitgedink” het of uit die lug uit gegryp het nie maar dat die inhoud van die Drie-eenheid wat deur die destydse kerkleiers presies, duidelik en versigtig geformuleer isbloot ‘n ego was van wat die meerderheid Christene reeds van die eerste eeu af geglo en beoefen het. Dit word bevestig deur meeste hoofstroom-historici soos Dale Allison – self ‘n skeptikus wat geloof betref – dat ‘n hoë Christologie (‘n teologiese seining met Jesus as God) reeds in die Markus-evangelie gekry word en nie eers in Johannes soos wat sommige ander beweer nie. Markus is egter ‘n episodiese vertelling en sal so iets soos Jesus se Godheid nooit letterlik sê nie. Hy sê dit egter duidelik in hóé hy sy storie vertel:Reeds in die tweede hoofstuk van Markus word beweer dat Jesus sondes vergewe net soos wat God doen in die Ou Testament, dat Hy voorgehou word as die Bruidegom net soos God in die Ou Testament en dat Hy die Here is oor die Sabbat net soos God in die Ou Testament. Tog is daar ‘n vreemde volharding van sekere teoloë en historici – tot skande van hulleself – dat Konstantyn verantwoordelikwas vir ‘n Goddelike Jesus.

Hierdie was net drie vinnige voorbeelde tussen baie ander. My pleidooi aan my skeptiese vriende is dat ons hulle skeptiese denke nodig het (hulle skeptiese denke is goed vir Christene maar ongelukkig skadelik vir hulleself!) maar dat hulle moet help om die kwaliteit van die gesprek tussen geloof en skeptisisme te verhoog en te verdiep. Ek wil ook nederig voorstel dat diegene wat hulleself as skeptici beskou sal konsekwent wees in hulle eie skeptisisme deur soms ook hulle eie bronne,denke en twyfel te bevraagteken. Hulle sal dit egter nie regkry deur omdie populêre retoriek van die dag met hoek, lyn en sinker in te sluk nie. Helpons eerder om regtig krities en denkend om te gaan met materiaal endaag ons as Christene asseblief eerder uit aan die hand van ernstige probleme soos die Christelike siening van oordeel of die probleem van ‘n goeie God te midde vansoveel lyding en kwaad in ons samelewing.Moenie net intelligente Christen skrywers se skrywes afskiet sonder om werklik moeite te doen om hulle werkte probeer verstaan nie. Lees eerder die argumente deeglik en reageer krities en sistematies daarop, weerlêdit en help ons om beter te verstaan. In die proses mag jy dalk self groei en tot dieper (kan ek waag om te sê selfs “ander”) insigte kom.