Indien die stories van Jesus van Nasaret in die vier Bybelse evangelies waar is, dan is Hy beslis een van die mees unieke mense in die geskiedenis. Geleerdes maak gedurig gewoontes daarvan om Hom sommer so lukraak gelyk te stel aan- en parallelle te trek tussen Hom en ander godsdienstige geleerdes. Maar is dit waar? Ek praat eerstens van die wonderwerke wat Hy gedoen het, tweedens van die vreemde outoriteit waarmee Hy mense geleer het, maar derdens, veral na sy historiese opstanding. Aan sy historiese opstanding gaan ons volledig aandag gee in ‘n ander hoofstuk in hierdie boek.

Kom ons kyk dus eerstens na Jesus se wonderwerke. Dit is so dat daar baie ander geestelike leiers in Jesus se tyd wat ook wonderwerke gedoen het. Aan die Joodse kant was daar byvoorbeeld ’n rabbi genaamd ‘Honi, die sirkeltekenaar’ wat in tyd van fisiese droogte in die land ’n sirkel op die grond geteken het en die Here uitgedaag het om reën te stuur voordat hy weer uit die sirkel sou tree. Die reën het toe gekom en Honi het die naam begin kry as ’n verrigter van wonderwerke. Daar was ook Hanina ben Dosa, ook ’n Joodse rabbi wat sekere wonderbaarlike beantwoording op sy gebede gekry het. In die nie-Joodse wêreld was Apolonius van Tyana ook geken as ‘n werker van wonders, alhoewel hy eintlik eers baie jare na sy dood bekendheid verwerf het. Volgens oorlewering deur Filostratus het hy demone uitgedryf, ’n dogtertjie uit die dood laat opstaan en ook aan mense verskyn na sy dood. Daar is egter heelwat probleme met die storie van Apolonius. Eerstens het Filostratus een en ’n halwe eeu ná Apolonius geskryf. Dus was daar genoeg tyd vir legendes om in te sluip. Verder is daar geen ander geskrifte buiten dié oor Apolonius waarmee die data vergelyk kan word soos wat met die Nuwe Testament die geval is nie. Derdens skryf Filostratus uit finansiële oorwegings, aangesien hy opdrag gekry het van die keiserin om ’n biografie oor Apolonius te skryf omdat sy ’n tempel in sy eer wou oprig. Die verhale oor hom is dus onder geweldige verdenking.

Wat maak Jesus se wonderwerke anders as alle ander geestelikes?

Heel eerste is dit insiggewend om die sentraliteit van wonders in Jesus se lewe te sien en om te weet dat dit ongeëwenaar is in enige ander geestelike geskrif. Byna alle ander geestelike leiers wat wonders gedoen het, het twee of drie groot wonders in hul ganse lewe beleef en dit was nooit die sentrale aard van wat die persoon gedoen het nie. Met Jesus was dit anders. Wonders was volgens Homself sowel as die evangelieskrywers, die teken van die Goddelike en Messiaanse outoriteit waarmee Hy aarde toe gekom het (Johannes 10:25; 20:30-31). Jesus het nie net ‘n paar wonders iewers op die kantlyn gedoen nie. Sy wonders was om elke hoek en draai, by byna elke geleentheid in die openbaar vir almal om te sien (enkele wonders het Hy wel in privaatheid gedoen). Matteus alleen rapporteer drie en twintig individuele wonders met die insluiting van tekste waar gesê word dat daar ‘baie mense genees is’ (Matteus 15:29-31). Matteus 4:23 beweer ook dat Jesus in ‘n spesifieke gebied elke kwaal wat Hy teegekom het gesond gemaak het.

Die radikaliteit van die wonders van Jesus onderskei Hom van ander geestelike verrigters van wonders. Die soort van siektes wat Jesus Genees het, was nie dinge soos oorpyn, maagpyn en rugpyn wat moontlik psigosomaties verklaar sou kon word nie. Hy het ernstig organiese siektes genees soos blindheid, stomheid, melaatsheid en doofheid van geboorte af. Hy het ook op water geloop, storms stilgemaak, brood en vis vermeerder, dooies laat opstaan en nog baie ander dinge gedoen.

Wel, iemand kan steeds beweer dat dit maar net die Bybelse evangelies se perspektief is en tereg vra of die evangelies werklik histories betroubaar is. Ongelukkig sluit die doel van hierdie boekie nie die moontlikheid in om hierdie saak in detail te bespreek nie. Wat egter baie insiggewend is om te noem is dat die evangelies se weergawes van die lewe en wonders van Jesus wat baie sterk getuig van ‘n historiese aard en iets wat deur ooggetuies bevestig is. Byna die hele Nuwe Testament is deur ooggetuies geskryf. Neem die vier evangelies: Matteus was ’n ooggetuie en skryf saam met Lukas in ongeveer 80 n.C. Lukas self was nie ’n ooggetuie nie, maar het saam met Paulus gereis wat die lewende Here gesien het. Johannes was ’n dissipel van Jesus en dus ’n ooggetuie (Hy skryf in 90 n.C). Markus skryf in die 70’s n.C. Hy was ook nie ‘n ooggetuie nie, maar het saam met Petrus gereis wat wel ’n oggetuie was.

Nog meer merkwaardig is dat hierdie skrywers in die tyd skryf toe meeste van die ooggetuies (vriend en vyand) van Jesus se lewe, nog geleef het op die plekke waar Hy geleef het. Hierdie hordes ooggetuies kon die evangelies korrigeer indien hulle foutief was in die uitdrukking van Jesus en veral sy wonders.

Ook uit nie-Christelike kringe getuig mense van die wonders wat Jesus gedoen het. Josefus wat beskou word as een van die mees gesagvolle historici oor die tyd van Jesus getuig van sy wonders.

Selfs uit vyandige kringe soos in die Joodse Talmoed ontken die Jode nooit dat Jesus se wonders nie plaasgevind het nie. Hulle noem Jesus egter bloot ‘n ‘vindingryke towenaar’.

Tweedens kan ons kyk na die vreemde outoriteit waarmee Jesus die mense geleer het sowel as wonders verrig het. Jesus doen wat geen ander rabbi gedoen het nie: Hy leer en genees die mense in sy eie naam! Dit was ongeken in daardie tyd, aangesien enige rabbi altyd ander rabbi’s aangehaal het en die mense gewys het na die leringe van gesagvolle leermeesters. Goeie rabbi’s van Jesus se tyd wys die mense waar die weg van God is, waar die waarheid te vinde is en hoe jy daar kan kom. Jesus doen egter die ‘arrogante’ ding om te beweer: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe en niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’ Hy bied Homself aan as die waarheid. In Johannes 5 en op ander plekke stel Hy Homself gelyk aan God, sodanig dat die Jode Hom wil doodmaak! In die bergpredikasie in Matteus 5-7 gebruik Hy herhaaldelik die frase ‘Julle het gehoor dat daar gesê is… maar Ek sê vir julle…’. Die ‘Ek’ is in ’n sterk oordrewe vorm in die Grieks. Jesus wil dit duidelik stel dat Hy met die outoriteit van God kom en dat hyself God is. Hierdie aansprake wat Jesus gemaak het wys dat hy óf van sy sinne beroof was (Hy het werklik gedink dat Hy God was maar was dit nie), óf hy was ’n blatante leuenaar oor homself, óf Hy was werklik wie Hy gesê het hy was. Uit Jesus se lewe, karakter en ander lering is dit egter baie duidelik dat hy nie die kluts kwyt was of ‘n leuenaar was nie. ‘n Mens is eerder sterk onder die indruk dat Jesus wel die Seun van God, God self was.

Derdens is die opstanding seker die belangrikste gebeurtenis in die storie van Jesus. Dis so belangrik dat ons ‘n hele artikel op hierdie website daaraan spandeer. Lees dit gerus.

Wanneer die hele storie van Jesus egter in ag geneem word (sy lewe, wonders, dood en historiese opstanding), dan kan slegs God se bestaan en intensies die beste verduideliking wees vir die storie en geskiedenis van Jesus. Sy storie is dalk bietjie te uniek om maar net bloot gesien te word as een van baie godsdienstige moontlikhede tussen baie ander. Dalk iets om oor te dink…