Ek het groot geword in ‘n tipiese Afrikaanse Christelike huis, en soos meeste kinders het ek seker maar in “die man daar bo” geglo.

My gesin en familie is baie fundamentalisties. Die meerderheid boeke en musiek in ons huis is Christelik. My ouers het uit hul goedheid ons weerhou van Pokémon en Harry Potter. My pa en my broer het my ook gereeld gewaarsku van al die boosheid in die harde musiek waarvan ek gehou het. Ons het so boekie gehad, Maak skoon jou huis, met ‘n lys van bose musiek, wat later ‘n versameling geword het van my gunsteling bands. My ouma het my menige kere vertel oor die wegraping en eindtye. Dit was vir my nogals vreemd dat niemand hierdie dinge bevraagteken het nie.

Ek was in ‘n AGS gemeente van geboorte af. Hande in die lug steek en in tale praat was niks vreemd gewees nie. Al wat ek kan onthou van kinderkerk was dat ek nogals bang was toe ek hoor van die duiwel en die hel. Maar die kerk se sosiale aktiwiteite was vir my baie pret, so pret dat ek in 2003 ‘n sertifikaat ontvang het vir getroue bywoning.

In die hoërskool, tydens ‘n jeugdiens, het ek soos baie ander tieners my hart vir die Here gegee, en later het ek myself laat doop. Toe ek 15 geword het, het ek die tienersel begin bywoon. Meeste van die temas was hoe om Christenskap prakties uit te leef. Teologie en doktrine was nooit in diepte bespreek nie. Dit was aanvaar dat almal die regte God- en Jesus-prentjie beet het. Alhoewel dit nooit bespreek was nie, is ek oortuig dat die meerderheid van die mense daar geglo het dat ons in die eindtye leef. En dat meeste sekulêre media euwel is. En dat evolusie natuurlik ‘n leuen is.

In 2005 het ‘n man by my oupa en ouma ingebreek en hulle aangeval met ‘n pyp. Hulle albei het in komas beland en is kort daarna oorlede. Dit was die eerste keer gewees wat ek getwyfel het in God se goedheid. My grootouers was die beste Christene gewees wie ek geken het, ek het nie verstaan hoe ‘n liefdevolle God met gevoude arms kan staan en kyk hoe so iets gebeur nie. Die pyn en lyding in die wêreld het my al hoe meer begin pla. Ek was lank verbitterd gewees teenoor God, en hoërskool was nie meer baie lekker gewees nie.

Maak geen fout nie, ek was baie betrokke by die kerk. Ek het die liedjiebord en die klank gedoen. Ek het selfs in ‘n paar toneelstukke gespeel.

Ek wou meer leer van God, en gevolglik het ek baie meer begin bid en om die Bybel in diepte te lees. Maar dit het die teenoorgestelde effek op my gehad. Gebed het gevoel of ek met myself praat. En hoe meer Bybel ek begin lees het, hoe minder het dinge vir my sin gemaak. Ek het baie tekste raakgelees wat ek nooit besef het staan in die Bybel nie. Dit het gevoel of ek Game of Thrones lees. Ek het besef dat hierdie eintlik ‘n baie vreemde boek is. Die wêreld van die Bybel is nie die wêreld waarin ons werklik leef nie.

Ek was baie deurmekaar. Christenskap het vir my so baie vreugde gegee, maar dit het nie sin gemaak nie. Ek het baie vrae begin vra oor die meerderheid van die Bybel, maar ek het gou besef dat ek die enigste een is wat blykbaar worstel hiermee. Ek het my besware met van die jeugleiers bespreek, maar ek het goedkoop antwoorde gekry. Glo soos ‘n kind. God toets jou. Dis die duiwel wat jou laat twyfel. Die een jeugpastoor het wel vir my so paar boeke geleen, maar al die boeke het aangeneem dat Christenskap waar is. Dit was glad nie bevredigend gewees nie. Ek het my vrae meestal vir myself gehou, ek het dit net per geleentheid met my meisie en beste vriend bespreek. Ek kon dit nie met my ouers bespreek nie, ek wou hulle nie teleurstel nie.

In 2008, in matriek, het ek tydens ‘n jeugdiens uit die kerkgebou geloop. My meisie het agterna gekom en gevra wat fout is. Ek het vir haar gesê dat ek nie meer hierdie goed glo nie. Dit was die laaste keer gewees wat ek die kerk getrou bygewoon het.

Ek het na daardie aand op ‘n spirituele reis gegaan. Ek was oortuig dat daar ‘n god is, maar ek was nie seker of die tradisionele Christelike weergawe die regte een is nie. Ek onthou hoe ek op Wikipedia deur al die verskillende -ismes gelees het. Een wêreldbeskouing wat my die beste beskryf het was deïsme: Geloof in God gebasseer op rede en die natuur, nie openbaring nie. Dit was so cool om te weet dat daar ‘n naam is vir wat ek glo, of altans nie glo nie.

Van 2009 tot 2010 was my geloofslewe redelik konstant. Ek wou meer leer van God en Sy skepping, en het gevolglik baie populêre wetenskap en biologie boeke gelees. Ek het in my eerste jaar op universiteit apologetiek ontdek. Ek het dit nogals amusant gevind dat Christene dink dat daar goeie redes is om gelowing te wees. Ek het wel saamgestem met die basiese argumente vir die bestaan van ‘n god, maar die goed oor Jesus het my nie oortuig nie. Jesus was net nog ‘n mite.
Ek het meer uitgesproke geraak oor my geloofsoortuigings, en het gevolglik spanning in my verhoudings veroorsaak. Trouens, my destydse meisie het met my uitgemaak met die woorde: “Ek het jou lief, maar ek het vir Jesus meer lief”.

Ek het meer in diepte begin oplees oor kosmologie en evolusie. Al die redes hoekom ek nog in ‘n skepper-god geglo het, het al hoe minder oortuigend geklink.

Daar was nie ‘n presiese oomblik gewees nie, ek het net eventueel besef dat daar nie ‘n god kan wees nie. Hierdie heelal kan nie die handewerk van ‘n almagtige wese wees nie. Ek het in die middel van 2010 vrede daarmee gemaak dat ek ‘n ateïs is. Ek het dit vir niemand gesê nie, ek het reeds genoeg kere in die verlede sosiale selfmoord gepleeg.

Die wêreld het heel goed gefunksioneer sonder die hulp van ‘n god. Ek het geloof ook maklik weg redeneer: lewe is scary, en die dood is scary, daarom het mense gode opgemaak om hulle deur die lewe te help.

Ek het gelukkig ‘n ongelowige groepie vriende gemaak. Dit was ‘n groot verligting om mense te ken wat verstaan hoe irrasioneel en onintellektueel geloof in ‘n god is. Ek het al hoe meer militant geraak oor my ateïstiese sienings. Ek het baie debattte en praatjies gekyk van bekende ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris en Christopher Hitchens. Maar ek was nogals moedswillig. Ek het baie keer tydens debatte ge-fastforward net om te hoor wat die ateïs se argumente is. Ek wou ammunisie kry sodat ek nooit onkant gevang sou word indien ‘n gelowige my konfronteer nie.

Ek was in my teorie vakke blootgestel aan filosofie. Een wêreldbeskouing waarmee ek dadelik myself kon vereenselwig was nihilisme: Die mens en die lewe het geen doel, geen betekenis en geen waarde nie. Die lewe was absurd.

Ek het myself doelbewus besig gehou met studies en sosiale aktiwiteite, net om te verhoed dat ek nie te veel aan die dieper dinge van die lewe dink nie. Ek het baie meer begin uitgaan in die aande en meer hedonisties begin leef. Alhoewel ek ‘n lekker sosiale lewe gehad het en ‘n goeie laaste jaar op universiteit, het ek baie leeg gevoel in my binne-wêreld.

Ek het ‘n teorie klas gehad oor etiek en moraliteit. Ek sou later uitvind dat hierdie dosent wat die klas aangebied het betrokke is by Dialoog. Ek het na daardie klas weer begin oplees oor apologetiek. Dinge was dié keer anders gewees, dis seker omdat ek nou meer bewus was van wetenskap en filosofie. Ek het baie debatte en praatjies geluister van William Lane Craig en John Lennox. Hulle redes vir geloof was so goed gewees. My voormalige ateïstiese helde se argumente het nou vir my swak voorgekom. Hierdie twee Christene was actually rasioneel gewees, dit was nie die Christenskap wat ek as kind geken het nie. Alhoewel ek baie verlig was dat daar dalk ‘n god bestaan, was ek aan die een kant kwaad. Dit het my ontstel dat ‘n teïstiese wêreldbeskouing so baie sin maak, want dit het beteken dat ek nog al hierdie tyd as ‘n ongelowige verkeerd was.

Ek het een aand op my bed gesit en aanvaar dat daar ‘n god is, want die kosmologiese en morele argument is goed.

Ek het afgekom op Abel Pienaar in my vierde jaar en het deur hom Renaissance gemeente ontdek, ‘n spirituele gemeenskap vir vrydenkers. Ek het die kerk gereeld begin besoek. Ek het ook  vir Dialoog ontdek, en baie tuis daar gevoel, aangesien ek besef het dat daar ander mense is wat ook worstel met geloof. Ek het dit waardeer dat hierdie groep mense nie bang was vir moeilike vrae nie. Ek en my nuwe meisie het gereelde besoekers geword. Ek het by Renaissance my spirituele fix gekry, en by Dialoog my intellektuele fix.

In my verhouding het ek saam met my meisie geestelik gegroei. Sy het my blootgestel aan die emosionele kant van geloof, en ek het haar weer blootgestel aan die intellektuele kant. Ons het saam praatjies en debatte gekyk, en dit uitgebalanseer met Rob Bell se Nooma videos. Ek het nie altyd oop kaarte met haar gespeel oor my geloofslewe nie. Ek het voorgegee asof ek meer geloof het as wat ek werklik gehad het. Ek wou nie weer daardie tipe konflik in my verhouding hê nie. Die verhouding het eventueel geëindig. Ek is baie dankbaar dat sy my toegelaat het om my geloof te bevraagteken.

Ek het na die verhouding meer betrokke geraak by Dialoog. Ek het teen hierdie tyd al goeie vriende geraak met baie van die mense. Ek het betrokke geraak by die manne-sel. Ek het selfs ‘n paar praatjies aangebied, al het ek glad nie geloofsoortuiging gehad nie. Alhoewel ek bewus was van die argumente, kon ek nie die Jesus-storie heeltemal koop nie, dit was net te goed om waar te wees. Ek het opgelees oor liberale teologie en gnostiese Christenskap, opsoek na ‘n nuwe verstaan van die Evangelies. Ek het baie gemaklik begin raak met die idee van ‘n mitologiese opstanding.

Ek was op hierdie stadium van my lewe, in die helfte van 2014, agnosties gewees. Christenskap het nie vir my emosionele vrede gebring nie, ek het toe begin oplees oor Oosterse gelowe, spesifiek Taoïsme en Boeddhisme.
Ek het die Tao Te Ching begin lees. Ek het kort daarna die Dhammapada van die Boeddha ook gelees. Hierdie boeke was so eenvoudig en wys. Dit het glad nie enige vreemde verhale bevat nie, en daar was glad nie enige moeilike versies wat verduideliking gekort het nie. Oosterse gelowe het vir my baie meer verdraagsaam voorgekom. Geen veroordeling, geen debatte, en geen hel nie.

Oosterse gelowe het die groter prentjie gesien. Hulle beeld van God het soveel beter geklink. Dit is asof Christene, Jode, Moslems in hulle eie klein bubbles leef, en die Oosterse tradisies was in een groot bubble wat al hierdie ander gelowe insluit.

Ek het daagliks begin mediteer, en verskillende tegnieke probeer. Alhoewel ek ‘n rustigheid beleef het in my gemoed, het ek besef dat Oosterse idees nie altyd intellektueel gesofistikeerd is nie. Hoe meer ek hierdie idees bestudeer het, hoe meer het ek besef dat baie daarvan ook maar net op geloof moet aanvaar word.

Ek het regdeur my Oosterse reis nogsteeds Dialoog besoek. Ek was geestelik baie deurmekaar. Ek het ‘n information overload beleef en nie meer geweet wat om te glo nie. Ek het verskeie idees uit verskillende gelowe gehaal en “Waldo-isme” geskep. Party dae het dit gevoel of ek op ‘n ander spirituele vlak leef, en ander dae het ek gevoel dat al hierdie goed net in my kop is. Aan die einde van 2014 was ek nie op ‘n goeie plek nie. Ek het angstigheid beleef wat my baie herinner het aan my ongelowige dae op universiteit.

In die begin van 2015 het ek besluit om Dialoog te los. Ek het gevoel dit was ‘n mors van tyd. Net toe ek die kerk wou los, het ek gehoor dat hulle gereël het dat Ellis Potter, ‘n voormalige Boeddhiste monnik van Amerika, ‘n paar praatjies hier gaan aanbied. Ek was natuurlik baie geïntereseerd gewees, want hoekom sou ‘n Boeddhis ‘n Christen word? Dit het geklink soos ‘n stap agteruit. Ek was genooi na ‘n retreat waar hy die spreker was.

Ek het die sessies baie sinvol gevind. Dit was veral interessant om te hoor hoe hy Christenskap benader het van ‘n Oosterse perspektief. Ek het lekker gesprekke met die ander mense gehad, en ek kon my besware vrylik met hulle deel. Ek het ook ‘n lekker gesprek met Ellis Potter self gehad.

Daar was een van my kamer maats met wie ek veral lekker gesels het. Hierdie persoon was super intellektueel en super skepties. Ons het dadelik geclick aangesien ons baie dieselfde gedink het oor die lewe en godsdiens. Maar daar was een ding wat vir my opvallend was terwyl ons gesels het. Tydens een van ons gesprekke het dit gevoel of ek met my toekomstige self praat. Ek het na die tyd baie leeg gevoel. Ek het besef hoe betekenisloos en sinneloos my deurmekaar wêreldbeskouing werklik is.

Ek was eintlik besig om simpel en moedswillig te wees. Dit was so onnodig om van God te vlug, want ek weet dat daar goeie redes is om Christenskap te aanvaar. Dit is ironies dat dit nie ‘n Christen se geloof was wat my oortuig het nie, maar eerder ‘n agnostikus se ongeloof.

Ek het op ‘n Saterdagaand, op 21 Februarie 2015, besluit om myself oor te gee aan die Here en daardie stap in geloof te neem. Ek het nie ‘n stem gehoor, ‘n wit lig gesien of ‘n fuzzy gevoel gekry nie. Ek het net ‘n ah-ha oomblik beleef waar alles in plek geval het. Ek was wel oorweldig gewees met intense vrede. Daar was nou ‘n realiteit in my lewe wat voorheen nie daar was nie. Dit het gevoel of ek uiteindelik vir God ken.

Nadat ek daardie besluit geneem het, het ek dinge begin snap wat nie voorheen sin gemaak het nie. Wat veral vir my vreemd was, was dat ek actually nou lus was om te bid en om die Bybel te lees. Ek was selfs lus om aanbiddingsliedjies te sing, dit was voorheen my mees onplesierige kerk aktiwiteit gewees. Ek dink ek verstaan nou uiteindelik wat dit beteken om ‘n verhouding met God te hê.

As ek terug dink aan al die “-ismes” en wêreldbeskouings waar deur ek gereis het, dink ek Christenskap is die een wat my die meeste intellektuele, asook emosionele vrede gee. Ek dink daar is drie hoofredes waarom ek in God glo. Eerstens, dit beskryf die werklikheid en die menslike kondisie nogals goed. Tweedens, dit werk indien dit reg gedoen word. En derdens, op ‘n persoonlike vlak, gee dit my lewe betekenis.

Maak geen fout nie, ek het nogsteeds baie vrae, en daar is nog ‘n klomp goed waaroor ek nog wonder, maar hierdie vrae kompeteer nie met hierdie nuwe verhouding wat ek met die Here het nie.

Ek is dankbaar dat God my toegelaat het om Sy bestaan en karakter te bevraagteken. En ook baie dankbaar vir my vriende dat ek julle kon pla met my issues. Maar ek is die dankbaarste vir die feit dat ek vir Jesus kan ken.