SPROKIES EN DIE GOEIE NUUS VAN JESUS – Roedolf Botha

Sprokies kan ons help om die Bybel beter te verstaan. Trouens, ek glo dat ons die Bybel te veel kan vereng en misverstaan omdat ons te min maak van sprokies in ons eie lewens. Dit kan ons selfs help om die evangelie te aanvaar! Dis wat gebeur het met die bekende skrywer en Oxford dosent CS Lewis. Sommige van ons weet dat Lewis eers ’n ateïs was wat op ’n stadium vir sy goeie vriend JRR Tolkien, ’n toegewyde Christen, gevra het hoe hy dan kan glo in Jesus terwyl die stories oor Jesus in die Bybel so alledaags en oninteressant is. Tolkien reageer toe deur vir Lewis te sê dat hy die stories van Jesus verkeerd lees. Hy moet dit lees asof dit ’n sprokie is, dan sal hy beter verstaan. Nou kan daar dadelik ’n paar van ons wees wat voel dat ons geestelike of teologiese hare regop staan wanneer ons dit hoor! Is ons geloof dan nie in sy wese histories nie? Moet die Bybel dan nie meestal “letterlik” gelees word nie? Wees nie bevrees nie! Laat my toe om te verduidelik.

 

Wat is ’n sprokie?

Daar is vandag baie idees oor wat ’n sprokie presies is. In ’n artikel getiteld “On Fairy Stories” verduidelik Tolkien wat hy bedoel daarby. Hy begin deur daarop aan te dring dat sprokies nie in die eerste plek vir kinders bedoel is nie alhoelwel baie sprokies vandag gepopulariseer is vir kinders. Dit is so dat kinders baie makliker aanklank vind met die bonatuurlike element in sprokies maar Tolkien beweer dat dit ’n fout is. Volwassenes behoort net soveel te leer en te identifiseer daarmee as kinders. Baie sprokies soos “Sir Gawain and the Green Knight” of “The brothers Grimm” of “Beowulf” besit soveel intense en donker materiaal dat dit duidelik is dat dit geskryf is vir volwasse gehore en beslis nie bedoel is vir kinders nie. Baie van die stories soos die Drie varkies of Goue Lokkies was eintlik baie intenser en donkerder verhale in hulle oorspronklike vorm wat versag is vir die ore van kinders. Soos wat ons egter verder gaan sal ek langs die pad uitwys hoe dat die vier evangelies alle elemente openbaar van ’n sprokie. Let wel: dit beteken nie dat dit los staan van die geskiedenis nie. Maar later meer hieroor.

Tolkien verduidelik dat daar in sprokies wel vreemde karakters mag wees soos feetjies, kabouters en diere wat praat maar dat sprokies nie noodwendig sulke karakters hoef te bevat nie. Sprokies het in die eerste plek iets anders wat dit ’n sprokie maak naamlik “Magic”! Magic is nie die karakters of die plot in die storie nie maar is die “lug” wat ingeasem word in die sprokie, die spasie tussen die karakters. Dit is die onderliggende idee dat daar iets méér aan hierdie storie is as bloot die karakters en die verloop van gebeure. Daar is iets wat groter is as dit alles. “Magic” is die bonatuurlike mag wat veroorsaak dat alles uiteindelik weer reg uitdraai en dat die slegte oorwin word. In die evangelie van Jesus sien ons soveel elemente hiervan omdat dit appèl maak op alle mense om te glo dat God in beheer van hierdie wêreld is en dat daar méér is as net Herodusse, mammon, siektes, natuurampe en die duiwel! God is in beheer en deur Jesus kan ons almal leef in hierdie nuwe realiteit van God se koninkryk! Hierdie realiteit word regdeur die evangelies gekommunikeer in Jesus se bonatuurlike geboorte, die wonderwerke wat Hy verrig en natuurlik sy opstanding uit die dood! Deur alle sprokies kommunikeer die Groot Skrywer dat hierdie lewe oorspan word deur die finale realiteit van die koninkryk van Jesus, wat goeie nuus vir almal is.

Daar is egter ’n tweede belangrike element en doel van ’n sprokie, naamlik menslike begeertes en verlanges. Baie volwassenes stap uit ’n sprokies rolprent uit, glimlag goedig en sê: “ja, dit was nou alles oulik maar nou is ons terug in die régte wêreld en hier is sulke elemente, nie moontlik nie”. Of hy sit by die huis, terwyl hy aan sy vrou verduidelik dat hierdie “fantasie-ding” nie vir hom is nie aangesien hy van meer “realistiese” stories hou. Tolkien sou beweer dat so ‘n persoon die punt geheel en al mis. Sprokies gaan nie oor “moontlikheid” nie maar oor begeertes en verlanges van die menslike hart. Wanneer mens laasgenoemde in ag neem is enige sprokie geheel en al realisties! Die doel van ’n sprokie is nie die fantastiese wêreld waarin die verhaal jou inneem nie, maar die realiteite diep in jou hart. Hy wil jou herinner daaraan dat daar êrens binne-in jou die begeertes en verlange bestaan dat iets van die “magic” van hierdie sprokiewêreld waar moet wees. Iets in ons wil graag hê dat die bose in ons wêreld, net soos in die wêreld van die sprokie, op sy plek gesit moet word en dat die goeie, die ware, die held en die mooie altyd sal oorwin! Die doel van die sprokie is nie soseer om vir jou iets nuuts oor jouself te leer nie, maar eerder om reeds bestaande emosies en begeertes in jou wakker te maak sodat jy sal onthou dat hierdie lewe om meer gaan as net die sigbare en “realistiese”. Sprokies wil vir jou die goeie nuus van Jesus laat voel en ervaar. Dit wil jou stimuleer om met ander oë na hierdie lewe te kyk en te onthou dat daar meer is as net wat ons met die blote oog kan waarneem en dat dit hoop in jou sal inblaas. Dit wil jou hoop gee dat die bose en swaar in hierdie wêreld ook “op sy plek gesit sal word” en dat die Goeie sal wen! En hier is die sleutel: onderliggend aan enige sprokie, of eintlik, enige goedvertelde storie, is daar die Groot Storieverteller, die Een wat die geskiedenis in sy hand hou en wat deur Jesus sal sorg dat alle onreg uitgesorteer sal word en skade herstel sal word op hierdie stukkende aarde! Onderliggend tot alle Sprokies is daar die Groot Sprokie wat alle ander sprokies omvat en nuwe betekenis laat kry.

Watter menslike hart smag nie daarna dat hierdie waar sal wees nie. Selfs diegene wat dit nie glo nie, wens dat dit so was! Dit is net so in die verhale van die karakters van die Bybel. Elke karakter in byvoorbeeld die evangelies, kom met hulle eie begeertes en verlanges na Jesus en Hy vervul dit! Saggeus begeer om Jesus te sien en Jesus gaan by hom tuis. Die Romeinse offisier begeer genesing vir sy slaaf en Jesus gee dit. Die Siro-Fenisiese vrou soek verlossing vir haar dogter en Jesus voorsien! Ten diepste soek die mense eintlik na God en hulle vind Hom in Jesus. Die wêreld benodig verlossing en God bring dit deur Jesus! Die mensdom het nodig dat die mag van die dood gebreek word en Jesus breek dit!

Derdens, word die oorwinning in sprokies gewoonlik behaal deur ’n held wat ’n geweldige persoonlike offer bring sodat die goeie kan seevier. Dink maar aan die antieke Deense sprokie van Thor. Hy is die versinnebeelding van ’n held, maar wanneer hy op aarde kom is hy swak en kwesbaar. Sy slegte halfbroer wil hom egter doodmaak en probeer in die proses die aardlinge verwoes om by Thor uit te kom. Uiteindelik gee Thor sy lewe prys om die mense te red, maar “magic” tree in en wek hom op uit die dood as gevolg van die deugsaamheid van sy heldedaad, en die halfbroer beland in die gemors! Niks kom egter by die geweldige offer van kosmiese omvang wat Jesus moes betaal op ’n heuwel net buite Jerusalem nie! Hy sweet bloed, Hy smeek, maar uiteindelik betaal hy, vrywillig, en die wêreld kan asemhaal!

Vierdens, op dieselfde trant, bevat alle goeie sprokies ’n element van sleg, gruwel of ’n euwel karakter wat uiteindelik oorwin word. Alle sprokies het ’n gelukkige einde! Ons weet hoe sprokies se laaste woorde gewoonlik lui: “… en hulle het lank en gelukkig saam gelewe.” ’n Sprokie sal geen sprokie wees sonder hierdie element nie. Dink aan Aspoestertjie wat gevind word deur die prins en die twee lelike susters wat hulle verdiende loon kry. Dis hierdie element wat die slot van ’n sprokie bevredigend maak. Jy hoef nie te wonder oor hoe hierdie storie gaan eindig nie, jy weet die skelm gaan in die hek duik en die held gaan wen! Die held wen ook gewoonlik deur wat Tolkien noem ‘n “eukatastrofe”. Ons weet almal wat ’n katastrofe is maar ’n eukatastrofe is presies die omgekeerde. Dis ’n gebeurtenis van kosmiese omvang en impak maar wat die wêreld red in plaas van vernietig! Tolkien praat hier van die “Great Escape”, naamlik die ontsnapping van die dood. ’n Goeie sprokie vertel hoe dat hoofkarakters bedreig word deur gevare en met name ’n dreigende dood of algehele vernietiging wat nie vrygespring kan word nie. Sprokies ontken dus nie die harde realteit van swaarkry, ontnugtering, mislukking en katastrofe nie. Trouens die moontlikheid van al hierdie dinge is nodig vir die ervaring van die vreugde van die bevryding wat kom. ‘n Sprokie weier egter hardkoppig om toe laat dat die pyn, donkerte of mislukking voorgehou word as finale realiteit.

Die eukatastrofe van Jesus se menswording is sy opstanding uit die dood. En dis juis hierdie opstanding uit die dood wat die krag word vir elke mens om te kan sprokies lees sowel as skryf. Die opstanding van Jesus is die groot hoogtepunt van God se skeppingskrag in elkeen van ons se lewens. God het nuwe lewe geskep in sy Seun! Net God die Skepper kan dit doen. Sy opstandingskrag werk nou in ons. Dit werk veral in ons wat glo, maar ook op ’n manier in alle mense omdat almal van ons na sy skeppingsbeeld gemaak is. Onderliggend dus aan enige goeie storie waar Waarheid, Goedheid en Skoonheid heers, is Jesus aan die woord. Dit is waar ongeag of die storie vertel word deur CS Lewis, JRR Tolkien of Steven Spielberg. Elke storie moet gemeet word aan die Groot Storie, sodat die leuens van die antagonis of die duiwel nie die oorhand oor ons kry nie, maar elke storie sal vingerafdrukke of voetspore hê van die Storieverteller van Nasaret. Al wat ons moet doen is om te luister. En… dan word ons sy mede-storievertellers!

Jy mag dalk egter op hierdie punt vra of daar dan geen verskil is tussen die goeie nuus van Jesus en sprokies nie. Natuurlik is daar verskille. Hier is egter die belangrikste: Hierdie Groot Sprokie van Jesus het die geskiedenis en so, die realiteit van ons alledaagse lewens binnegekom. Die geboorte van Jesus is die eukatastrofe van die menslike geskiedenis. Die opstanding van Jesus is die eukatastrofe van sy menswording. Die storie begin en eindig met vreugde en oorwinning. Sulke vreugde het die smaak van primêre, universele waarheid. Daar is geen ander verhaal wat die meeste mense begeer waar moet wees nie. Ook is daar geen ander verhaal wat as waar aanvaar is deur so baie skeptici op grond van sy eie meriete nie. Hierdie sprokie is die voortreflikste storie. God is die Here van engele, van mense – en van sprokieskarakters! Hier word legende, sprokie en geskiedenis versoen en saamgesmelt. Die woorde van “The Lord of the Rings” kan sekerlik hier in omgekeerde volgorde gebruik word: “Myth became legend, and legend became history”. Ons lewens, hoe donker dit ook al soms is, kan betekenis kry in die lig van die Groot Sprokie!

 

Ten slotte:

Om vir ons geloof in Jesus se gee moet die Here ons dus gedurig neem na verhale en wêrelde waar enige iets moontlik is! As gawe gee die Groot Skrywer vir ons sprokies sodat wanneer ons gereeld ons verbeelding oefen deur tydelik opgemeen te word in ’n wêreld waar enige iets moontlik is, dat dit vir ons makliker sal raak om te glo dat die storie van sy Seun ’n lewende werklikheid is! ’n Werklikheid wat die vervulling van ons diepste menslike verlange is: dat ons elkeen ontsaglik waardevol is en liefgehê word met ’n oneindige liefde! Wie wil nie hê dat so ’n sprokie waar moet wees nie!?