WAAR KOM DIE MOREEL-ETIESE KODE BINNE-IN ALLE MENSE VANDAAN? – Roedolf Botha

Dit was C S Lewis, die briljante voormalige ateïs en dosent in Middeleeuse Engels aan Oxford, wat tot geloof gekom het as gevolg van sy waarneming van ‘n moraliteit in alle mense. Hy vertel hoedat hy altyd teen geloof beswaar gemaak het deur te protesteer oor al die lyding, swaarkry en ongeregtigheid in die wêreld. Gedurende hierdie innerlike protestering raak hy eendag daarvan bewus dat daar binne-in homself ’n natuurlike gevoel is van wat reg en verkeerd is. Hoe sal hy kan protesteer teen ongeregtigheid as hy nie weet wat geregtigheid is nie? Elke mense het ’n innerlike vermoë om te onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd. Tog dui so ‘n onderskeiding op ’n hoër outoriteit wat bepalend is vir wat reg en verkeerd is, ‘n uiteindelike oordeel oor wat reg en verkeerd is. Lewis het dus begin wonder oor wat die uiteindelike basis is vir hierdie spontane innerlike, morele oordeelsvermoë van die mens.

Sy konklusie was dat daar ’n universele morele Wetgewer moet wees.

Dit beteken nie dat almal dieselfde waardes het nie, maar dat daar iets by ons ingebore is wat ons oortuig dat ons wel volgens die een of ander etiese kode behoort te leef. Hy het geredeneer dat indien daar ’n God bestaan wat alles geskep het, dan sou Hy Homself nie aan die mens as ’n entiteit binne-in die skepping kon openbaar nie, aangesien Hy die Ontwerper en Skepper daarvan sou wees. Net soos wat die argitek van ’n gebou homself nie kan openbaar binne-in die gebou as ’n stel trappe of ’n vuurhert nie, net so kan die Skepper Homself ook nie as ’n volledige skepsel openbaar nie. Die enigste manier waarop Hy Homself in mense se innerlike wêrelde kan openbaar, is om iets van Homself in elke mens te skape as ’n invloed om op ’n sekere manier te leef (Uiterlik het Hy Homself egter in die geskiedenis geopenbaar deur mens te word)

Tim Keller beweer op grond van Lewis se gedagtes, dat elke mens diep binne-in weet dat daar ’n God is, maar dat hulle onderdruk wat hulle weet. Dink daaraan. Is daar nie mense iewers in die wêreld wat jy dink verkeerde dinge doen en wat moet ophou daarmee ongeag hulle eie oortuigings nie? Ek het ’n rukkie terug met ’n nie-gelowige vriend oor moraliteit gepraat en sy standpunt was dat niemand hulle eie morele waardes op ander kan afdwing nie en dat elke persoon vir hulleself moet besluit wat reg en verkeerd is. Volgens hom word morele waardes kultureel bepaal. Ek vra hom toe of hy dink dat dit ook geld vir die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog? Hulle het hulle eie waarheid gesoek en gevind. Hulle het opreg geglo dat hulle reg was. Maar was hulle reg? My vriend het darem grondiglik met my saamgestem dat die Nazi’s verkeerd was, maak nie saak hoe reg hulle gedink het dat hulle was nie. Ek het my vriend ook gevra of dit moreel neutraal is dat kindertjies doodgemaak word en of dit kultureel bepaal kan word. Hy het weereens met my saamgestem dat dit beslis verkeerd is om kinders te vermoor.

Kan jy sien waarheen ek stuur? Indien daar geen God is nie, dan ís morele waardes kultureel van aard en dan ís daar geen manier waarop ons enige groep mense kan konfronteer oor hulle immorele praktyke nie. Ons kan dit slegs doen as ons oortuig is dat daar ’n universele morele wet bestaan waaraan álle mense moet voldoen ongeag hulle omstandighede, agtergrond of kultuur. Indien ons in so ’n universele wet glo, dan moet ons vra waar dit vandaan kom. Lewis het geglo dat dit God is wat iets van Homself is elke mens ingeplant het en dat Hy die standaard bepaal waaraan moraliteit gemeet word. Ek glo dit ook. Die logika van die argument lyk soos volg:

As daar objektiewe goed en sleg bestaan, moet daar ’n maatstaf of wet wees waarteen dit gemeet word.

As daar ’n maatstaf of wet vir die bepaling van objektiewe goed en sleg bestaan, moet daar ’n morele Wetgewer bestaan.

Daar bestaan objektiewe goed en sleg.

Dus: Daar bestaan ’n objektiewe morele Wetgewer.

Hierdie universele morele kode in alle mense en kulture kan die beste verduidelik word deur die bestaan van ’n morele God.