BABELAS GEBEDE: GEDAGTES OOR DIE DROOGTE – Herman Carstens

Alhoewel Gautengers deesdae met ‘n tikkie leedvermaak die Kapenaars en hul stortgewoontes spot, word ons harte ook deur die nood geroer. ‘n Christen bid as hy of sy met sulke lyding gekonfronteer word. En ek glo dat God ons gebede hoor. Tog voel ek dat ons hierdie leersame oomblik moet gebruik om ons aandag op ‘n paar skreiende ironieë in ons as Christene se besorgdheid te vestig.

 

Eers moet ek noem dat daar veelvoudige redes vir die krisis in Kaapstad is. Die watertekort is dalk as gevolg van politiek en swak beplanning, maar die droogte self is meestal as gevolg van klimaatsverandering, en hierop wil ek fokus. Ek moet bylas dat hierdie toevallig eerste met die Kapenaars gebeur het, maar dat hulle nie meer skuldig as enige ander streek staan nie.

 

Dit is ironies dat evangeliese Christene van die bitter min groepe ter wêreld is wat klimaatsverandering – en ons rol daarin – ontken, ten spyte van die feit dat (Christen) wetenskaplikes dit al vir jare voorspel. Maar ons het hulle van die hand gewys en ons reg om te verbruik kwaai verdedig. Nou, terwyl ons ons heel vrolik aan verbruik vergryp, bid ons dat God tog sal intree wanneer ons vir die gelag moet betaal. Ons gebede vir reën is dus soos ‘n onbekeerlike alkoholis se gebede vir sy babelas: ons is jammer oor die nagevolge, maar nie van plan om ons gedrag te verander nie. Byvoorbeeld, die beste manier waarop die gemiddelde mens klimaatsverandering kan veroorsaak is om te vlieg – veral plaaslike roetes. Die Johannesburg-Kaapstad vlugroete is een van die besigstes ter wêreld (per kapita waarskynlik die besigste). Ons is wêreldleiers in rondvlieg, spesifiek Kaap toe. Mense bid waarskynlik selfs vir reën op die vlug.

 

Dit is ook ironies dat ons ons vermoë om te verbruik as ‘n seën van God sien. Hoe meer ons kan verbruik, hoe meer geseënd is ons. En dis nie net die aanhangers van voorspoedsteologie wat so redeneer nie. Die opregte Afrikaanse Christen sal baiekeer erken dat dit nie sy Toyota Fortuner in sy motorhuis is nie. Dis Jesus s’n, en hy gebruik hom om God se skepping te gaan ervaar en waardeer. Ek moet erken dat ek ook ‘n Jesus-ryding wil hê en sou gebruik, so my hande is nie so skoon nie. Dalk is dit ‘n verskuilde seën: ek het al eerstehands gesien hoe besittings en goeie Christene verblind. En alhoewel ek ook só ‘n lewenstyl in my hart begeer, weet ek ook dat ons huidige verbruiksvlakke  liefdeloos teenoor ons naastes is. Dit is ook ‘n minagting van die skeppingsorg-mandaat wat ons van God ontvang het. Daardie groter enjin, of daardie ekstra oorsese vakansie, of die nuwe skerm waarop jy hierdie lees, is nie net ‘n stukkie bederf nie. Ons verbruikerskeuses het regte nagevolge in die regte wêreld. So alhoewel ons bid wanneer ons mense en diere sien ly of doodgaan, bring ons nie die kloutjie by die oor van ons persoonlike verbruiksbesluite uit nie. In die eerste eeu het die gemiddelde mens se gulsigheid of gemaksug dalk net sy onmiddellike familie geraak. Dit was ‘n kwessie van min of meer private sonde en persoonlike heiligheid, en ons probeer onsself nogsteeds daarby berus. Maar vandag se kragtige tegnologie laat ons verbruikerskeuses regoor die planeet uitkring. Jou besluite dra by tot die selfmoorde van derduisende boere in Indië, die massa-uitsterwing van seldsame bokke in Mongolië, en konflik in die Midde-Ooste. Die feit dat die lyding van die weerloses God ontstel behoort dus nie vir ons ‘n troos te wees nie.

 

Ons koolstofverslawing maak dit nog meer ironies dat ons as Christene die armes wil ophef. Klimaatsverandering tref hulle baie harder as ons: droë krane lyk anders op Mitchell’s Plein as in Clifton. Die gemiddelde Amerikaner (en Afrikaner) verbruik soveel energie-hulpbronne in ‘n dag soos wat die gemiddelde Rwandees in ‘n jaar verbruik. Ek sê nie ons moet ons tegnologie verwerp nie, maar op die oomblik benodig ons so 1.6 aardes om die wêreldwye verbruik te ondersteun. Ons gebruik onvolhoubaar baie hulpbronne. En al hoekom hierdie syfer so laag is, is omdat die oorweldigende meerderheid mense (die armes) mínder as hul aandeel gebruik. Hulle balanseer die handjievol rykes (ons) uit. Ironies genoeg wil ons die armes ophef sodat hulle net soveel soos ons kan verbruik, terwyl die ongelykheid tussen ons en hulle eintlik al is wat die rampspoed terughou. Met ander woorde, ons kan nie bekostig om die armes uit armoede te lig en hulle soos ons te maak nie. Daarmee sê ek nie dat ons nie die armes behoort te help nie. Ons gaan bereid moet wees om ook ons eie lewenwyses aan te pas. Vir meeste mense is dit ondenkbaar. Soos Wendell Berry sê, ons vertel vir onsself dat ons nie kan verander nie omdat ons afhanklik geword het van dit wat fout is. Maar dit is die verslaafde se verskoning, en ons weet dit. Ons gaan moet verander. Die pad na sosiale geregtheid loop déúr omgewingsgeregtigheid.

 

So gepraat van verskonings, ‘n gewilde een is altyd dat dit nie finansieël sin maak om “groen” te wees nie – die hippies is naïef. Tog wys ons beste ekonomiese narvorsing vir meer as ‘n dekade lank al dat volhoubare besigheidsbeleid en klimaatsverandering-voorkoming by verre die goedkoopste manier is om die probleem aan te spreek. Op ‘n baie klein, persoonlike vlak is dit byvoorbeeld erg onvolhoubaar om botteltjies water te koop. Nie net is dit peperduur nie, maar die omgewingsvoetspoor van so ‘n botteltjie is veel hoër as dié van kraanwater in jou eie bottel. Daar is dus vir my ‘n fyn ironie in die feit dat as gevolg van ons bottelwater-lewenswyses, die krane nou opdroog, en Kapenaars botteltjies water moet begin opgaar.

 

Die laaste en grootste ironie is die volgende. Die beste manier om omgewingsvriendelik te wees, is om soos ‘n Christen te lewe. Die Christelike lewensvisie maak mens nie net gelukkig nie, maar is toevallig ook volhoubaar. Sekulêre sielkundige navorsing het gewys dat gelukkige mense die volgende in gemeen het: nederigheid, dankbaarheid, en vergewensgesindheid. Gelukkige mense is op ander mense ingestel, eerder as op hul besittings of ervarings. Hulle gee eerder geld weg as om dit aan hulleself te spandeer. Dít is wat lewensgehalte bring. Klink dit nie bekend nie? Wat is die omgewingsvoetspoor van so ‘n lewe? Maar dit is gans anders as hoe meeste Christene hul tyd spandeer. Ons glo die advertensies, en verwar daarom lewenstandaard met lewensgehalte. Omdat ons sukkel om intiem by mekaar betrokke te wees, raak ons gou verveeld, en spandeer ons ons tyd en geld aan hoë-koolstof vermaak en besittings om ons mee besig te hou. En dit maak ons nie eers gelukkig nie. Dit is dus ironies dat ons so gretig is om ons afhanklikheid aan God te bely tydens die droogte, maar nie wanneer ons dié dinge doen wat droogtes veroorsaak nie. Die verdere ironie is dat Christene uniek toegerus is met die geestelike hulpbronne, voorbeelde, en opdragte, om lewens van vervullende selfopoffering te lewe.

 

Daarom nooi ek jou, as jy jouself ‘n Christen noem, om saam te bid vir Kaapstad en ook te luister na dit wat God wil hê ons moet doen. Maar kom ons vra ook sommer vir die karakter om ons lewenswyses met Jesus s’n te belyn, en sulke reëngebede onnodig te maak.